Deur Liesel le Roux
Daar is met reg kommer onder inwoners van Oudtshoorn en omgewing oor die talle voertuigbotsings die laaste tyd op al die paaie om die dorp – die N12 na Dysselsdorp en De Rust, die N12 na George, die R328 na die Kango Grotte en die R328 na Mosselbaai, asook die R62 na Calitzdorp.
Dié botsings het vele tragiese en traumatiese gevolge. Gesinne is in rou gedompel nadat agt mense in die laaste twee weke van September in van die botsings oorlede is. Talle mense is in die botsings beseer, party baie ernstig. Daar is diegene wat hul ryding verloor het en ander wie se lewens finansieel ontwrig is.
Die vraag op baie mense se lippe die afgelope week was: Hoe stop ons dit?
Want dit kom voor of praat nie help om gevaarlike gedrag op paaie uit te skakel nie – mense jaag steeds oor sperstrepe om die draaie tussen Oudts-hoorn en George, hulle verontagsaam stoptekens en rooi verkeersligte, draai voor ander in sonder ’n flikkerlig, maak ’n U-draai voor aankomende verkeer, drink en bestuur en jaag laataand deur strate asof dit hul persoonlike renbaan is.
Die hoof van provinsiale verkeer op Oudtshoorn, Gerald Becker, het verlede week ’n belangrike punt gemaak toe hy aan Die Hoorn gesê het dat bestuurders nie net padreëls moet nakom nie, maar ook te alle tye ingestel moet wees op die situasie waarin hulle hul bevind en moet oplet na wat ander bestuurders doen.
Byvoorbeeld: ’n Moeë bestuurder wat in die donker op ’n nat pad ’n skerp draai nader, moet besef hy/sy is in ’n potensiële gevaarsituasie.
Becker het die volgende raad gegee op grond van die oorsake van baie ongelukke:
• Hou by spoedbeperkings.
• Gehoorsaam padreëls.
• Handhaaf ’n veilige volgafstand.
• Moenie ongeduldig raak op ’n pad soos die tussen Oudtshoorn en De Rust waar daar padwerke is nie.
• Wees oplettend en neem ander in ag wat jou dalk nie raaksien nie.
• Skakel jou voertuig se hoofligte aan.
• Pas jou spoed aan by omstandighede, byvoorbeeld reën of skerp draaie.
• Kyk uit vir wilde diere op paaie na sononder.