Deur Liesel le Roux
Versigtig en geduldig.
Dit is die wagwoorde vir bestuurders op die paaie rondom Oudtshoorn, Dysselsdorp, De Rust en Calitzdorp oor die volgende paar maande – moontlik jare – terwyl opgraderings- en bouwerk aan verskillende paaie in die omgewing plaasvind.
Die werk aan die paaie tussen Oudtshoorn en De Rust, Oudtshoorn en Calitzdorp en Oudtshoorn en George is van so ’n aard dat dit geruime tyd sal neem. (En boonop was daar reeds verskeie vertragings op die pad van Oudtshoorn na De Rust wat werk daar aansienlik verleng.)
En hoewel dié padwerke ongerieflik én tydrowend is, is dit belangrik dat dié paaie verbeter moet word.
Toerisme is een van die grootste werkgewers in die streek, en om te groei en meer werk te skep, is dit nodig dat toegangsroetes tot die streek van goeie gehalte en veilig moet wees.
Met die vakansietyd voor die deur is dit belangrik dat inwoners besoe-kers en gaste aanmoedig om versigtig te bestuur terwyl aan dié paaie in die Klein Karoo gewerk word.
Die belangrikste immers vir elke motorryer is om veilig tuis te kom.
• Geduld is voorwaar iets waarna almal maar kan streef.
Dit was opvallend hoe ongeduldig enkele mense geraak het toe twee kragonderbrekings in die Groter Oudtshoorn Sondag en Maandag te midde van brande, rook en wind voorgekom het.
Gelukkig het die meeste darem verstaan dat weersomstandighede en rampe nie voorspel kan word nie en selfs vertel hoe hulle die donker en die kerslig geniet het! Gelukkig ook was daar die geduldige werkers van Eskom wat Maandag deur die nag herstelwerk gedoen het aan die 132 kW-lyn tussen Outeniqua en Dysselsdorp. Dankie aan dié werkers!