Skoktoestand van sportvelde op Dysselsdorp
Die toestande waaronder die jong krieketspelers van Dysselsdorp krieket moet speel, is om die minste te sê, skokkend.
Die Dysselsdorp Krieketklub bestaan al vanaf 1982 en het oor die jare briljante krieketspelers opgelewer, waaronder ’n hele paar SWD-spelers. Wat egter hartverskeurend is, is dat die klub nie eens oor behoorlike fasiliteite soos toiletgeriewe, waterkrane en ’n klubhuis of stoorruimte by die veld beskik nie. Die spelers en besoekers moet na die nabygeleë sportstadion stap indien daar dringende behoeftes is.
Tans is daar nie eens ’n boom waar-onder die spelers kan skuil teen die versengende hitte nie. Die arme spelers word tydens elke wedstryd aan die elemente van die natuur oorgelaat.
Ironies genoeg groei krieket op Dysselsdorp teen ’n geweldige pas en die klub beskik tans oor byna twee manskrieketspanne en een vrouespan wat aan die SWD-ligas deelneem.
Ook is hier een van die jong krieketspelers wat aanstaande jaar tydens Junie na Sri Lanka sal toer. Voorwaar uitstekend as in ag geneem word onder watter omstandighede hulle moet oefen en speel. Ek haal my hoed af vir die sportadministrateurs op Dysselsdorp vir wat hulle met byna niks vermag nie.
Aan die ander kant van die munt weet die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit al jare van die gebrek aan geriewe by die krieketveld .’n Paar jaar gelede is hier ’n houtstruktuur as kleedkamer vir die krieket opgerig. Met die eerste sterk wind in Dysselsdorp toe lê die hele stuktuur in die nabygeleë rivier. Hierna is nog nie weer aandag geskenk aan kleedkamergeriewe by die krieketveld nie.
SWD Krieket wou so ’n paar jaar gelede die hele krieketveld opgradeer, maar omdat die sokkerspelers grootliks die buitevelde so uittrap, het die SWD gesê hulle kan slegs inkoop as sokker op alternatiewe velde gespeel word. Ons wil dankie sê vir SWD
Krieket vir die hulp en ondersteuning wat hulle ons gee, maar hier lê nog sommer baie ontwikkelingswerk op Dysselsdorp.
Ontwikkeling moet geskied in die agtergeblewe gebiede, nie daar waar reeds uitstekende bestaande geriewe is nie.
Aan die munisipaliteit, hier by die sportgronde is daar baie grond beskikbaar vir addisionele sokkervelde. Julle belowe elke jaar daar is geld beskikbaar vir opgraderings en ontwikkeling van sportvelde en geriewe, maar die geld bly net op die boeke van die munisipaliteit en sterf dan ’n stadige dood of word vir ander items aangewend.
Indien geriewe wel tot die beskikking van Dysselsdorp se sportlui gestel word, word dit op die een of ander manier weer na Oudthoorn herlei waar reeds hope en ordentlike gevestigde geriewe bestaan. Kyk net byvoorbeeld na Oudtshoorn se krieketvelde op die dorp en by Bridgton.
Die opsigters by Dysselsdorp se krieketveld het partykeer nie eens ’n behoorlike roller tot hul beskikking om die kolfblaaie ordentlik voor te berei nie. Ons praat nie eens van die reeds genoemde patetiese buitevelde nie.
Hier gaan iemand nog bitter seerkry met die ongelyke oppervlaktes van die veld.
Ons vra die munisipaliteit om asseblief dringend aandag te skenk aan hierdie brief. Stuur asb mense uit om hulle te kom vergewis van die toestande hier by Dysselsdorp se velde.
Ek praat van velde in die meervoud, want die rugbyveld is ook nie vêr agter wat die swak toestand betref nie. Dis ’n skreiende skande dat Oudtshoorn daarop roem dat dit die sportmekka van die Suid-Kaap is, maar net langsaan by die bure is dit ’n perd van ’n heeltemal ander kleur.
Ná hierdie brief glo ek sal daar ’n hele paar rooi gesigte rondloop, maar dink net aan die hele aantal jong krieketspelers wat elke week met rooi en seer gebrande gesigte moet sit.
– Gefrustreed en moedeloos, Dysselsdorp
(Die bostaande brief is aan die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur vir hulle reaksie. Geen reaksie is teen spertyd ontvang nie. – Redakteur)