Deur Angelique Erasmus
DIE 18-jarige Francois van der Bergh van Oudtshoorn moet volgende Dinsdag, 13 November, weer in die streekhof op Oudtshoorn verskyn nadat ’n saak van roof teen hom deur streeklandros JC Nortje op 29 Oktober uitgestel is.
Van der Bergh staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede nadat hy na bewering in Junie vanjaar ’n man met ’n skêr gesteek en van ’n selfoon beroof het.
Hy het ook in 2017 na bewering ’n man vyf keer met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek.
Die twee sake teen Van der Bergh is saamgevoeg om nou in die Oudtshoorn Streekhof verhoor te word.
Volgens Gideon Badenhorst, die regsverteenwoordiger van Van der Bergh, sal sy kliënt by sy volgende verskyning op 13 November formeel pleit.
Van der Bergh is tans in aanhouding.