Ao Bernard Weyers. Foto Facebook
Deur Wyndham Ewerts
’N BEKENDE polisiebeampte van Oudtshoorn, ao Bernard Weyers (52), is Vrydagaand in die George Mediclinic aan natuurlike oorsake oorlede.
Weyers is die oudste broer van die bekende staatsaanklaer van Oudtshoorn, Michelle Weyers.
Bernard was vir baie jare as ’n hofordonnans by die plaaslike landdroshof werksaam.
Volgens Michelle was haar broer ’n mens met ’n groot hart wat altyd uit sy pad uit gegaan het om mense te help.
In sy fleur was hy ook ’n rugbyspeler wat die Bridgton Rugbyklub verteenwoordig het.
“Sy dood laat ’n groot leemte in ons lewens,” het sy gesê.
’n Roudiens vir Weyers sal Donderdagaand om 19:00 by die AGS Kerk in Bridgton gehou word.
Die begrafnis is Saterdag om 09:00 by die huis in Jonesstraat en om 10:00 by die VGK-kerk.
Bernard word oorleef deur sy ouers, Michael en Harriet Weyers, sy susters, Michelle en Kay, twee broers, Heinrich en Johan, sy saamleefmaat Marina Weyers, twee seuns Theo (28) en Myron (25), en ’n kleinkind, Caleb (5).