Die virus het 2020 totaal verander

Deon Meyer deel sy mening

Die datum 11/9 verlede week het my herinner aan die lugaanval op die Amerikaanse twin towers, maar veral aan hoe ’n nasie en spesifiek die naasbestaandes van geliefdes so ’n tragiese gebeurtenis hanteer.

Onwillekeurig het ek begin dink aan post-Covid-19. Hoe sal die lewe, die wêreld na Corona wees?

Daar is kenners soos prof Salim Abdool Karim op die paneel wat die president van advies moes voorsien, maar was daar werklik kenners in geestesgesondheid op dié paneel? Die fisieke simptome is uitgewys en die verwagte toename, die sogenaam­de piek van die virus, is bespreek. Dié besprekings was vir el­ke Suid-Afrikaner belangrik en elke burger wou ingelig wees, maar het ons nie moontlik vergeet van die “Wat na Covid-19?” nie. Hoeveel siel­kundige ongevalle sal daar nie wees nie? Hoe gaan hulle hanteer word?

Daar is sterk op fisieke simptome gekonsentreer, maar wat van die sielkundige impak op die mensdom?
By die plaaslike hospitaal op Ladismith het familie hul geliefdes besoek en deur ’n venster met hulle gepraat; later is beperkte besoeke toegelaat nadat screening plaasgevind het. Mens kon wyd lees en op televisie sien hoe besoeke aan outehuise hanteer is – tragies vir die oues van dae en hul geliefdes – maar ons het verstaan, begrip getoon.

Maar wat nou van die sielkundige en emosionele simptome van die pandemie? Dit wil voorkom asof daar hiervan vergeet is.

Dit is ’n alombekende feit dat enige pasiënt wat ’n mediese prosedure moet ondergaan, eers die ongemaklike neustoets (of ’n keeltoets) moet ondergaan. Vir sommige en veral jonger pasiëntjies en hul ouers is dit alreeds vreesaanjaend, terwyl die stres van byvoorbeeld ’n ope­rasie self ook nog wag.

In ’n gesprek met ’n moeder van ’n driejarige peuter wat die Covid-toets nog moet deurmaak, kon ek die vrees in haar stem hoor – hoe gaan hy dit hanteer en dan is daar nog die operasie wat wag. Sy het ’n goeie ondersteuningsnetwerk, maar tel die dae na die toets en die ope-rasie letterlik af.

Volgens ’n peiling in Mei 2020 deur die mediese organisasie Me­-dical Protection het 60% van dokters kommer gehad oor die ge­- sond­heid van hul familie en vrien­de, wat weer ’n nadelige uitwerking gehad het op hul eie persoonlike welstand.

Die finansiële verliese van gesinne en sakemanne in hierdie pandemie lei tot huweliksprobleme en selfs selfdood. Die koronavirus het die jaar 2020 totaal verander.

Om op te som: Die nagevolge van Covid-19 sal die mensdom nog lank bybly, selfs al sou die pandemie al uitgewoed wees.