Briewe van lesers

Niemand kan onbeperk ‘eensame opsluiting’ hanteer

Ek glo ek praat namens baie familie­lede met geliefdes in ouetehuise.
Almal van ons het die afgelope tyd inperkingsangs ervaar. Hoeveel te meer ons oumensies wat van liefdevolle ondersteuning afhanklik is en onder “onmenslike koshuisreëls” moes leef.

Geen mens kan onbeperk “eensame opsluiting” hanteer nie. Ons móét nog steeds leef!

Personeelwisseling is vir my ’n veel groter risiko as die besoek van ’n ge­lief­de. Beheerde toegang en beskermingsreëls is steeds nodig, ja, maar om in die buitelug met mekaar te kuier is veilig – nie in ’n raserige straat waar hulle ons in elk geval nie kan hoor nie!

Ek wil asb ook vra dat ons oumensies behoorlik ingelig word waarom sekere reëls geld – die antwoord is al­tyd: “Dit kom van bo af en ons voer net opdragte uit.” Hulle moet ’n slag self kom ervaar waardeur ons oumensies gaan!

Dankie aan dr Wessel Vermeu­len se skrywe, wat sommige mense positief beïnvloed het. Wat ’n hemelse gevoel was dit nie om my ma weer na ses maande te kon huis toe neem en rustig om ’n koppie tee te kuier nie! Die hele gemoed is gelig en trane van vreugde het gevloei!

Dankie aan alle ouetehuisperso-neel wat die inwoners se veiligheid hul erns maak.

Dit word oneindig waardeer! Dit kan nie aldag ’n maklike taak wees nie.
Kom ons vat hande en oorwin saam die nare virus sonder om hul heeltemal af te sonder!
– Marina Pretorius, Oudtshoorn