Dié gebrek aan sosiale afstand laat die hare rys

Redakteursbrief
IN die afgelope twee weke het my hare ’n paar keer regop gestaan. Ek moet net byvoeg dat ek Covid-19 ernstig opneem; die realiteit daarvan nie probeer ontken nie, en nie deel is van die brigade wat in ’n fiktiewe wêreld van samesweringsteorieë oor die virus leef nie.

Ek is ook in die ouderdomsgroep waar die Covid-19-risiko groter is en het boonop die afgelope maande te veel pyn en hartseer as gevolg van Covid-19 beleef – daar het reeds te veel mense gesterf (wat gesond was toe hulle die virus gekry het); en daar is reeds te veel wat die res van hul lewe met permanente fisieke skade en siektes moet leef as gevolg van Covid-19.

Ek het vanjaar die eerste keer in my lewe ervaar hoe mense om my as gevolg van ’n griepvirus sterf.

Dit is egter nie Covid-19 wat my hare laat regop staan nie, maar van my mede-inwoners van die Suid-Kaap en ook besighede/instansies/organisasies wat klaarblyklik nie omgee om ander se lewens in gevaar te stel deur hul weiering om die baie eenvoudige Covid-19-maatreëls toe te pas nie.

Die moeilikste ervarings die afgelope twee weke? Buite twee hospitale in ons streek en by ’n supermark.

Buite die hospitale was ek klaarblyklik die enigste persoon wat sosiale af­-stand wou toepas. In George het ek later ’n tree langs die ry gaan staan nadat ’n vrou my aanmekaar teen die persoon voor my probeer vasdruk het. In Oudtshoorn het drie mense voor my by die tou ingedruk omdat hulle glo nie besef het ’n spasie voor my beteken dat ek sosiale afstand toepas nie.

By die supermark was daar net voor die middaguur so baie mense binne dat geen trollie beskikbaar was nie. Dit was moeilik om in die gangetjies vol mense te beweeg sonder om by mekaar verby te skuur. In die rye na die kasregisters het mense bykans neus-teen-rug gestaan. Ek moes ongelukkig ’n paar noodsaaklike goed koop, maar het die res van my lang inkopielys weggepak en geloop.

Bygesê, daar was ook goeie ervarings waar ek veilig en ontspanne gevoel het. Pluimpies aan onder meer die Departement Binnelandse Sake en Queen’s Apteek, asook die Oudtshoorn Polisie­kantoor waar ’n familielid was, vir die wyse waarop hulle mense beheer.

Dankie aan almal wat omgee, kenners eerder as Facebook vertrou, én daarop aandring dat mense maskers dra en afstand handhaaf.

Onthou: Dra jou masker, was jou hande, handhaaf sosiale afstand.
Dit is so eenvoudig soos dit.

En dit wys jy gee om vir ander.

‘Miskien sal my storie help’
• “Miskien sal my storie help dat mense versigtiger sal leef.” Dit was die woorde van Rayno Campher (40) einde Julie vanjaar toe hy met Die Hoorn gesels het, onder meer oor die ligsinnige wyse waarop mense Covid-19 hanteer het. Dié mooi jong man wat die vorige dag sy 40ste verjaarsdag gevier het, het ’n maand later gesterf.

Rayno het op dié sonnige wintersdag vertel dat hy en sy vriende eerlikwaar aanvanklik gedink het die virus is ver, in China, en sal hulle nie raak nie.

Toe hy – fiks en fisiek sterk – kort daarna siek word, het hy nie besef dat hy waar­skynlik Covid-19 het nie. Hy is nie vir die virus behandel nie; het daarna erns­tig siek geword; sy hart en ander organe het begin ingee.

Rayno het 14 weke nadat hy siek geword het, gesterf. Hy is die laaste weke van sy lewe vir ernstige hartversaking behandel.

Sy boodskap in Julie, woordeliks, aan lesers van Die Hoorn was: “Wees verantwoor­delik, hou af­stand, dra jou masker en hou jouself veilig van die Covid-19-virus. Ek wens dit wat my oorgekom het, niemand toe nie.”