Munisipaliteit is ’n diensleweraar; nie ’n werkverskaffer
Alhoewel alles nog nie 100 persent is nie, is dit verblydend om te sien dat daar ’n groot verbetering in dienslewe-ring in Oudtshoorn is. Dit is moontlik danksy die goeie samewerking tussen die raad met die burgemeester aan die hoof en die administrasie met die munisipale bestuurder aan die hoof.
Daar kan nog meer vermag word indien die provinsiale en nasionale regerings meer fondse beskikbaar stel. Die munisipaliteit is daar om dienste te verskaf aan die inwoners en nié ’n werkverskaffer soos wat baie dink en verwag nie.
Daarom moet die burgemeester aandring op die afhandeling van die werkoudit sodat almal wat botallig is en nie weet hoe om hul dag om te kry nie, afgedank kan word.
Die miljoene wat aan hierdie salarisse bestee word, kan verder vir dienslewering gebruik word.
– Inwoner, Oudtshoorn
Dankie, dr Vermeulen!
Dit is my opregte behoefte om uit die diepte van my hart vir dr Wessel Vermeulen baie dankie te sê vir sy eerlike en insiggewende skrywe in Die Hoorn aangaande die Covid-19 pandemie.
Dit is só waar dat die huidige geslag bejaardes waarskynlik die groep mense is wat van die grootste bydrae tot die staatskas in die vorm van belasting bygedra het. Hulle het nog geweet hoe om deur eerlike en harde werk, onbeskaamd, hul brood in die sweet van hul aangesig te verdien. Kom ons gun hulle ’n welverdiende en rustige “oudag” met die luukse van vriende, kinders en kleinkinders wat hulle kan besoek en liefdevol omarm en troetel.
Ons moet besef dat hul wêreld al kleiner word weens vriende en geliefdes wat hul ontval, en ook herinneringe wat moontlik nie meer so helder is nie. Meeste van ons besef die erns van “die siekte wat op die middag verwoes” en dat dit juis die bejaardes is wat die kwesbaarste is. Ons het ook begrip vir die groot verantwoordelikheid van die bestuur van versorgingsoorde om die welsyn van inwoners te verseker. Soms is die opregte liefdevolle streling van ’n hand meer genesend as medikasie.
Ons ganse mensdom het, of ons dit wil erken of nie, ’n behoefte aan liefdevolle aanraking. Kom ons gee dit in opregtheid terwyl ons kan. Wie weet, een van die dae is ons dalk self in daardie situasie waar ons versorg moet word.
Hiermee doen ek dus ’n beroep op almal wat betrokke is, vanaf topbestuur, verpleegpersoneel, kombuispersoneel, skoonmakers, kinders, kleinkinders en vriende: Kom ons gee ons beste terwyl ons kan. Asseblief.
– Pieter Conradie, Oudtshoorn