Die ‘ander’ wat ons so graag bykom

Deur Liesel le Roux

AS daar iets is wat my teen die bors stuit, is dit mense wat sosiale media gebruik om ander by te kom.

Daar is verskillende maniere waar­op diegene dit doen – maar dit is altyd agter die skans van’n rekenaar of sel­foon en soms ook ’n vals profiel. Ek wonder altyd oor diegene wat so ve­nynig is agter hul rekenaars en sel­-fone en waarom hulle nie dapper ge­noeg is om hul klagtes persoonlik met ander te be­spreek of ander by­staan om hul probleme op te los nie. Of “ontmens’ hul selfone en rekenaars ander so dat hulle vergeet hulle praat met en oor regte mense?

Voorbeelde:
1. Jy skinder saam oor iets wat jy iewers gehoor het maar nie die feite ken nie en saai so verdeeldheid.

2. Jy probeer iemand wat ’n ander siening (bv oor geloof of die politiek) as jy huldig, platslaan en beledig met jou woorde of “meerdere” kennis.

3. Jy val iemand/’n instansie aan wat ’n positiewe inisiatief probeer loods met ou en onverwante koeie uit die sloot om te illu­streer hoe sleg hulle eintlik is.

(Ek verwys nie na die mense op so­siale media wat van ander verskil sonder om beledigend te raak of te probeer seermaak nie. Natuurlik kan ons met mekaar kommunikeer en van me­kaar verskil!)

Aggressiewe, negatiewe en selfs haatdraende reaksie ontlont altyd gro­ter aggressie en negatiwiteit. En dit help niemand nie.

Ek wonder baie – wat sê die manier waarop ons op ons rekenaars en sel­-fone tik van die mensdom?

Ek glo dit is tyd dat ons ophou om ander se gif te versprei of aan te vuur.

Dit is tyd om deel te word van die po­sitiewes, die brugbouers, en die doe­ners wat nie net babbel nie (men­se soos die 40 inwoners wat verlede week opgedaag het by ’n gesprek oor die 25ste KKNK). Dit het tyd geword dat ons eerder opbou as afbreek.
– Liesel le Roux