’n Musiekkonsert vir Oudtshoorn se diere!

DAAR gaan met ’n heerlike musiekkonsert op Saterdag, 8 September, met van Oudts­hoorn se beste plaaslike musici geld ingesamel word vir dierewelsyn in die Groter Oudtshoorn.

Musiek vir Diere is die inisiatief van ’n groep diereliefhebbers van Oudtshoorn wat September verlede jaar die eerste keer so ’n konsert aangebied het.

Meer as R8000 is verlede jaar op die dorp vir die sterilisasie van die dorp se diere ingesamel.
Die program vir die konsert is saamgestel deur die musiekkenner Danie Bester en sluit optredes deur Elmine Bester, Jaco Kriek, Jan Loubser, Jana Bester, Lisa du Toit en Erina Terblanche, Douglas van Tonder, Daniël Bester, Mia Erasmus, Leighton Smith en Rene Young in.

Kaartjies vir Musiek vir Diere kos slegs R50 en sluit ’n verwelkomingsdrankie van Gründheim se muskadel voor die vertoning in.

Die konsert begin om 14:30 vir 15:00 en vind in die NG Moederkerk plaas.

Kaartjies is te koop by Bottega (oorkant die Spur in Baron van Reedestraat) en die aand by die deure.