Hart ook seer oor goeie ou dae
Ek rig hierdie skrywe na aanleiding van ’n skrywe in die briewekolom van Die Hoorn van 25 Januarie 2018: My hart is seer – geskryf deur Nic Barrow.
Baie lank gelede, in die goue jare van die Nicolaniasaal van die St Niklaas Katolieke Kerk in Bridgton, het die enigmatiese musiekonderwyser, wyle mnr Buis, ook ’n paar vertonings met die Kaapse Filharmoniese Orkes in hierdie pragtige saal gereël.
Hierdie blootstelling aan die klassieke musiek het ’n besonderse en blywende indruk op my, ’n standerd 9-klonkie, gelaat.
Destyds het wyle mnr Buis die blaas-orkes van St Niklaas afgerig. Hoogs begeesterde manne wat destyds ’n leidende rol in die orkes gespeel het, was onder andere Bani Moos, Joël Claassen, James Afrika, Boy Coetzee en Sam Oktober. Hulle is almal reeds oorlede.
Hierdie blootstelling aan die Filharmoniese Orkes het die St Niklaas-orkes laat uitstyg en hul talente verder ontwikkel.
Ek stem volhartig met Nic Barrow saam. My hart is net so seer oor die goeie ou dae.
Vandag se kinders het so te sê geen belangstelling in sulke opvoerings nie. Hiervoor kan ons vele verskonings soek. Sulke blootstelling plant tog ie-wers ’n saadjie wat waardering vir die wonderlike klassieke musiek aanwakker. Ek is baie dankbaar dat ons St Niklaas-orkes en ander “brass bands” vandag nog bestaan.
Dankie, Nic Barrow, dat u weer sulke pragtige herinneringe by my opgeroep het.
Doe zo voort!
– Kenny Powrie, Oudtshoorn