Hoe verklaar ’n mens dit?
Die pers sê dit was ’n rasse-voorval of rassehaat wat tot die voorval bygedra het. Die politici haal die rassekaart uit, iets wat eintlik net by ’n hondeskou gebruik moet word.
Terloops, hoekom baklei honde? Omdat hulle van verskillende rasse is of verskillende kleure het of net omdat hulle nie van mekaar hou nie?
Lyk my joernaliste en politici luister nie na Afrikaanse radiostasies nie. Laat op ’n Sondagoggend het die RSG-program Hoe verklaar jy dit, mooi verduidelik dat daar net één mensras is.
Behalwe vir Helen Zille lyk dit of joernaliste en politici nie die boodskap gekry het nie.
As daar dan ’n mens voor jou staan, vra vir jouself of jy ’n pad sal loop (behalwe die ekstra myl) met die persoon. Kyk dan na kultuur, geloof en karakter, want dit het die enkele mensras oor al die jare laat baklei.
Kultuur kan so sterk gevestig wees dat dit as ’n reg beskou word. Geloof kan so erg wees dat dit fundamentalisties word en karakter kan so swak wees dat dit aanmekaar uitdop soos ’n mak vlieg – maak dan jou keuse…
– Katot Meyer, Oudtshoorn
Oppas vir ongetoetste kommentaar
Dit is opvallend dat dit gereeld dieselfde mense is wat op Facebook of in die koerant kommentaar lewer op die aktiwiteite van ons raad en munisipaliteit. Dit is meestal negatief en het ten doel om die raad in ’n swak lig te stel. Hulle stel hoegenaamd nie belang in al die vele suksesvolle projekte en vooruitgang nie.
Dit is gewoonlik mense wat om die een of ander rede bitter beswaard is, in vele opsigte in hul eie lewe nie suksesvol was nie of persoonlike issues het. As jy verder in hul persoonlike werkrekord ingaan, sal jy uitvind dat hulle geen bydrae gelewer het waar hulle gewerk of skool gehou het nie.
Wat ons dorp nou nodig het, is inwoners wat verstaan hoe ’n raad en munisipaliteit werk en nie sommer ongetoetste kommentaar lewer nie.
Hierdie manne en vroue is deur die kiesers daar geplaas omdat hulle van mening was dat hulle bevoegd is. Volgende keer, stel julle verkiesbaar en ons kyk of die mense vir julle sal stem.
Gaan steeds voort om kommentaar te lewer, maar baseer dit op die groot wit laken, en nie op die klein swart kolletjie nie.
– Positiewe Oudtshoorniet
Bid vir ons skole…
Oor die jare was ons as leerders en ouers van bruin skole baie bederf met gehalte onderwys. Ons as leerders en ouers het nie net baie veilig gevoel nie, maar ons was ook vreeslik trots op ons leerkragte.
Ons het groot respek gehad vir hulle as mense, opvoeders en veral omdat hulle die erns van ’n goeie opvoeding besef het. Ons het hierdie mense bewonder vir hul liefde vir hul beroep. Ouers, leerders en leerkragte het die grootste respek vir mekaar gehad.
Oor die laaste paar jare van demokrasie het dinge egter drasties versleg en ons skolestelstel stort in duie.
Daar is deesdae so min ouers, leerkragte en leerlinge wat nog vir mekaar respek het. Ons leef in ’n tyd waar die onderwys onder erge druk is en omstandighede uiters moeilik is vir leerkragte. Daar is egter min beroepe, indien enige, waar dit nie moeilik gaan nie.
Die mensdom is byna almal ongelukkig in die werkplek en mense se klagtes ken geen einde nie. Ek wil my egter uitspreek teenoor diegene wat die beroep en ons bruin skole waarop ons tog so trots was, ’n slegte naam gee. Daar is ’n baie slegte element in die onderwys wat die goeie leerkragte vir wie ons kinders se opvoeding die prioriteit is, se name deur optredes en uitsprake deur die modder sleep.
Kinders wat uit arm huishoudings kom, word lelik sleg gesê en lyfstraf steeds toegedien. Die taalgebruik van hierdie slegte elemente is skokkend.
Sover ek weet is lyfstraf en verbale mishandeling onwettig en teen die skolewet. Enigeen wat hom hieraan skuldig maak, kan krimineel aangekla en tronkstraf opgelê word indien skuldig bevind. Dié mense hoort nie in ons skole nie en behoort verwyder te word. Die name wat kinders toegesnou word, is te verskriklik om in hierdie brief te noem.
Op 9 Mei 2022 vertel my negejarige graad drie-kleinseun hoe ’n graad een-leerkrag twee graad drie-leerders in die gesig klap ten aanskoue van nog ’n leerkrag en die res van die klas. Dieselfde leerkrag dreig die res van die klas deur hulle te belet om daaroor te praat en te maak asof hulle niks gesien het nie. Dié leerkrag vier, volgens sommige leerders, ’n skrikbewind en leerlinge is vreesbevange om onderrig by hierdie leerkrag te ontvang.
Dit is absoluut skokkend en onwettig. Hierdie elemente wat so gereeld oortree, is dieselfde mense in wie se oë ons kinders en ons as ouers nooit iets reg kan doen nie, selfs al probeer ons ook hoe hard. Baie skoolhoofde belowe ouers dat hulle met hierdie oortreders sal praat oor klagtes. Dit gebeur egter selde en die probleem groei.
Ons kinders word uit skole geslaan en gevloek deur dié slegte element en elke jaar met die matriekuitslae word gevra hoekom soveel kinders uit ons skolestelsel verdwyn. Geen wonder nie dat daar is so min bruin leerkragte – indien enige – se kinders in bruin skole is.
Wag tot die eerste skool gedagvaar word en siviele eise teen hierdie skole ingestel word. Die department van onderwys kan dit nie bekostig nie, veral nie in ’n tyd waar die staat byna al sy hofsake teen AfriForum verloor nie. Bruin skole het dringend ’n waghond nodig om ons kinders te beskerm teen hierdie slegte element in die onderwys.
Ek rig hierdie skrywe met die wete dat ook te veel onverantwoordelike ouers en ongedissiplineerde leerders die situasie baie vererger. Ons behoort ons leerkragte wat so lojaal is teenoor ons skole en die onderrig van ons kinders, beter te beskerm teen hierdie slegte ele-mente, want vir te veel het die situasie ondraaglik geword. Leerkragte wat oortree, wat gedurig teen ons arm kinders diskrimineer, hulle intimideer, viktimiseer en by tye erg onredelik behandel, behoort onmiddelik uit ons skole verwyder te word. Dit is juis as gevolg hiervan dat hierdie probleem groter word en kinders erg opstandig maak.
Bid vir ons skole.
– Raymond B Leroux, Oudtshoorn