Briewe van lesers

Besluit oor oorde moet geprys word

Almal wat nie deur ’n politieke bril na ons munisipale raad kyk nie, sal met my saamstem dat hulle baie goed doen en verdien om geprys te word. Die jongste besluit om iets te doen aan die situasie van die Bergoord en Bridgton Chalets wat teen ’n verlies bedryf word en in ’n haglike situasie verkeer, is ’n bewys van ’n verantwoordelike raad.

Hierdie geweldige finansiële verlies word deur die belastingbetaler gedra en indien dit sou voortgaan, kan die raad daarvoor verantwoordelik gehou word.

Boonop is die toestand van die chalets in Bridgton van so ’n aard dat niemand daar tuis wil gaan nie. Dit het ontaard in ’n plek waar saamgetrek word vir drankpartytjies. Die gemeenskap het al selfs die heining verwyder. Die toestand en geraas oor naweke het al die inwoners in die omgewing se huise se waardasies laat daal.

Dit is dus nou vreemd om te lees van inwoners en politieke bewegings wat die raad se besluit veroordeel. Gelukkig verstaan ons dat die verkiesingseisoen nou aangebreek het en almal op die wa spring in ’n poging om ’n stem of twee te kry. Natuurlik is daar ook diesulkes wat kwaad is omdat daar nie persoonlike voordeel vir hulle in die besluit van die raad is nie

Die ironie is dat dieselfde mense niks gesê het toe die gemeenskap die chalets so afgebreek en beskadig het nie. Ons moet regtig ophou om te kla as daar niks gedoen word nie maar dan voort te gaan met kla wanneer iets gedoen word.

Die burgemeester en raad kan verseker weet dat hulle iets reg doen en daar is inwoners wie dit sien en dankbaar is.
Hondjies blaf nie as ’n motor stil staan nie, maar net indien dit beweeg.
– Trotse Oudtshoorniet

Geen genade

Geen genade vir wie? Geen genade vir die klein besighede wat direk by toe­risme betrokke is nie.
Vyftig persent van Oudtshoorn se inkomste kom van toerisme, dis ’n feit. Hier is die laaste 15 maande geen, ja, luister mooi, geen buitelandse toeriste nie. Nie by die hotelle, B & B’s, gastehuise, restaurante, volstruisskouplase en die Kango

Grotte nie. Baie klein besighede het al toegemaak; die wat nog oop is, kry baie swaar en werk teen groot verliese. Hier is reeds derdui­sende personeellede in die gastebedryf afbetaal. Ja, duisende meer is werkloos.

Oudtshoorn Toerisme, die Oudts­hoorn Besigheidskamer en Agri het al aangeklop by die munisipaliteit en ge-smeek om genade. Daar is geen genade nie. Ons betaal belasting op toilette wat nooit gebruik word nie, op gastehuise en soveel eiendomme wat nooit gebruik word nie.

Wie en wat van die munisipaliteit? Mosselbaai is die beste munisipaliteit in die land, maar hulle belastings is 50% minder as die van Oudtshoorn. Ons buurdorp George se belastings is ook baie laer as die van Oudtshoorn. Al ooit gewonder hoekom? Kyk hoe lyk ons dorp, dis ’n skande. Bel jy die munisipaliteit oor iets, kry jy miskien na aanhoudende oproepe antwoord (pro­beer, en kyk self). Die personeel kom nooit terug na die belastingbetaler nie.

Ja, ons belasting is van die hoogste in die land. Wat is die afskrywings van die munisipaliteit vir slegte skuld (dws belasting en dienste wat nooit betaal word nie)? Ek daag hulle uit: Publiseer die syfers dat almal kan sien.

Een van die dae is dit verkiesing van die raad. Is daar nie kandidate wat sake kan regruk nie – sonder hulle eie of ’n politieke agenda, of gaan hulle weer net beloftes maak.

Ek wil net weer herhaal, daar is géén genade vir belastingbetalers van Oudts­­-hoorn nie.
– Pieter Retief, Oudtshoorn

Kommer oor dorp

Ek wil net aansluit by Mona en Marie se briewe in verlede week se uitgawe van Die Hoorn.
Oudtshoorn is vuil en kommerwekkend. Toe ons 13 jaar gelede by Villa Fontes in Buitekantstraat ingetrek het, was daar elke Dinsdag ’n manlike straatveër. Toe die ANC aan bewind kom, het alles verander en is al hoe minder gedoen. Toe kom die DA aan bewind en dinge bly dieselfde.

Daar is belowe ons straat sal een keer per maand aandag kry – nogal in ’n koe-rant, maar daar het net mooi dadels van gekom. Buitekantstraat regoor Vil­la Fontes is nou een jaar en drie maande laas gevee. Dit lyk vieslik. Dit lyk my daar bestaan net een straat vir die munisipaliteit en dit is Voortrekkerweg. Van die vroulike straatveërs beteken ook nie veel nie.

As ek Oudtshoorn so vuil sien, dink ek wat het verkeerd gegaan? Al wat nog gedoen word, is om vullis te verwyder. Dis so hartseer om die verval te sien.

Hoop met die groter Queen’s Mall sal ons die middedorp kan vermy. Ouer mense is nie meer veilig nie, en almal is sat vir die bedelaars en leegleërs en straatkinders. Die sekuriteitspersoneel by die Mall keer dat dit onveilig raak vir mense, want dit is die regte ding om te doen.
– JB, Oudtshoorn

Hoekom is dié rommel nie opgetel nie?

Maandag 10 Mei het ’n aantal munisipale werkers die sand langs die sypaadjie in Kerkstraat vanaf Jan van Riebeeckweg tot by die rivier opgevee en in swart sakke gegooi. Hulle het egter geen poging aangewend om die rommel op te tel nie.

Die meeste van hulle was op selfone of het langs bome gesit. Hoe verdien ’n mens ’n salaris as jy nie voluit werk nie? Jy kry ’n opdrag om uit te voer, maar gee nie ’n duit om hoe jy dit uitvoer nie. Dit is nie net my mening nie, maar ek rig hierdie skrywe ook namens ander inwoners van die Oudts­hoorn Aftreeoord wat gesien het hoe die werkers hul werk doen. Is daar dan nie ’n opsigter wat gesag kan uitoefen nie? Vra maar net.
– Marie, Oudtshoorn

Die lewe gaan oor keuses

Ons het altyd
’n keuse oor alles
wat op ons pad kom
of dit nou

goed of sleg is

wanneer slegte dinge
met jou gebeur
kan jy kies hoe

dit jou gaan beïnvloed

gaan jy toelaat dat dit
jou plat slaan en bly lê
of opstaan afskud en aanbeweeg

Somtyds maak ons
keuses wat onse
hart breek maar onse
siel genees
gryp elke geleentheid
aan om gelukkig te wees en

wees altyd jouself

want om oorspronklik
te wees is beter
as om in iemand
anders se skaduwee te leef

ek kies om gelukkig te wees
– Adriahan Jacobs