Briewe van lesers

Noodsaaklike grondpad in swak toestand

Ek verwys na die grondpad tussen De Rust en Middelplaas, geleë sowat 5 km aan die noordoostekant van De Rust.

Die gebruik van hierdie pad is abso-luut ’n noodsaaklikheid vir alle boer-derydoeleindes sowel as vir nuwe intrekkers wat hulle hier kom vestig het. Dit bedien ook vier gastehuise in die Middelplaas-omgewing.

Op die pad is ook ’n kleuterskool wat van ’n skoolbus gebruik moet maak om kinders heen en weer te vervoer. Dan loop daar ook ’n laerskoolbus en hoërskoolbus tussen De Rust en Middelplaas.

Tans is die pad in ’n uiters swak toestand. Dit is nie net slegs die padoppervlak wat gedaan is nie; die pad sowel as brûe en naamborde is toegegroei. Hier word absoluut geen dienste meer gelewer nie.

Die instandhouding van voertuie en vervanging van bande het ’n nagmerrie geword. Ek rig hierdie skrywe, ook namens die gemeenskap, met die hoop dat die paaie-afdeling of dan die departement wie se verantwoordelikheid dit is, ook die boodskap sal ontvang.

Of, waarvoor betaal ons dan belasting?
Albert Schoeman. Middelplaas, De Rust

20 Jaar – Langenhoven het gesê

■ In die eerste jare waarin Die Hoorn verskyn het, het ons elke week ’n spreuk van CJ Langenhoven in die koerant geplaas. Om Die Hoorn se 20ste jaar in die Klein Karoo te vier, gaan ons oor die volgende weke van dié spreuke herhaal. Dus hier is die eerste een:
Langenhoven het gesê: “’n Man is nooit te slim om te weet wat kwaad is nie.”