Help die Tussenhuis, vra Coetzee

Op die foto oorhandig Japie Coetzee van Oudtshoorn kruideniersware en kontant aan Angela Appels van die Irma Bruschi Tussenhuis vir kankerpasiënte in George. Dié huis ervaar tans finansiële probleme. Foto verskaf

’N INWONER en ’n oud-raadslid van Oudtshoorn, Japie Coetzee, het onlangs geld wat hy met ’n dasseprojek ingesamel het asook kruideniersware aan die Irma Bruschi Tussenhuis op George oorhandig.

Dié bekende huis in George huisves kankerpasiënte vanoor die land gratis wanneer hulle daaglikse bestraling en chemoterapie op George moet ontvang.

Pasiënte word ook daagliks van die huis af na die onkologiesentrum vervoer.

Coetzee sê dit gaan broekskeur met die huis se finansies en dat ’n versoek om skenkings onlangs aan mense gerig is.

Coetzee, wie se vrou, Jane, verlede jaar haar stryd teen kanker verloor het, het met die geld van sy dasseprojek kruideniersware gekoop en die res van die geld saam met dit aan die huis gaan oorhandig. Hy doen dit uit dankbaarheid namens sy vrou en al die Oudtshoorniete wat al daar tuisgegaan het, het Coetzee aan Angela Appels, wat in beheer van die huis is, gesê.

Coetzee het ’n beroep op inwoners en besighede gedoen om betrokke te raak en nie die geleentheid laat verbygaan om ’n verskil te maak nie.