Briewe van lesers

Sidder oor geen stopteken by dié besige hoek

Ek sluit graag aan by die brief van T Ungerer (Skoon Oudtshoorn) in Die Hoorn van 3 Desember 2020.

Aangesien van my familie op Oudts­-hoorn woon, besoek ek die dorp al vir langer as 40 jaar, maar woon sedert Mei 2017 permanent hier. Dit is skokkend om te ondervind hoe die dorp deur die jare agteruitgegaan het.

Behalwe vir die sake deur die skrywer genoem, is meeste van die strate in ’n treurige, vervalle, byna gevaarlike toe­stand. Slegs Voortrekkerweg en Baron Van Reedestraat is gewoonlik pro­bleemvry. Selfs Parkweg laat veel te wense oor, veral nadat ’n buitjie reën voor­heen herstelde slaggate weer oopgespoel het.

Vandat ons hier ingetrek het, makeer die stopteken by die kruising van Noord- en Baron Van Reedestraat wanneer eersgenoemde van die weste­kant genader word (ek neem aan daar was voorheen ’n stopteken). Daar is wel nog dowwe, geverfde merke op die teer, maar dis moeilik sigbaar in die donker.

Ek sidder om te dink wat kan gebeur wanneer iemand wat onbekend is met Oudtshoorn in die aand daar voor ’n ander motor inry. Baron van Reede­straat is immers ’n hoofdeurgang. Vir die munisipaliteit om so lank te versuim om ’n stopteken daar aan te bring grens aan die onverantwoordelike.

Mens besef en aanvaar dat die muni­sipaliteit se begroting nie onbeperk is nie, maar dis tog seker ’n groter priori­teit as om byvoorbeeld snelstrikke te beman? Ons wil graag trots wees op ons dorp en dit aan vriende en toeriste bemark, maar bogenoemde maak dit baie moeilik.
– Gellie, Oudtshoorn

Hoe veilig is die gesuiwerde rioolwater?

Hóé veilig is die water wat deesdae beskikbaar gestel word om in ons tuine te gebruik?

Kan iemand met kennis: mediese praktisyn, gesondheidsbeampte ons asb inlig – veral waar jong kinders en troe­teldiere op jou perseel is. Dié diere hardloop en speel in die tuin en word weer vertroetel deur die kinders. Dié diere word ook soms toegelaat om op jou bed te lê. Is dit veilig?

Ek glo ook dat hierdie water meer vlieë en muskiete lok, veral in hierdie warm klimaat. Sou ’n muskiet wat broei in hierdie water, jou byt, ’n ge­vaar inhou vir mens en dier?

Die water bevat die urine van siek mense, onder andere ook van Covid-19 pasiënte. Is dit moontlik dat kieme in die water kan skuil en ’n gevaar vir mense inhou? As die water nie 100% veilig is vir gebruik nie, hoekom word dit toegelaat?
– Bekommerd Oudtshoorn

Riglyne vir gebruik van rioolwater

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het soos volg gereageer op bostaande leser se navraag oor die moontlike verspreiding van die koronavirus deur gesuiwerde rioolwater wat vir besproeiing gebruik word:

Die finale uitvloeisel wat vir besproei­ing beskikbaar is, het deur ’n volledige konvensionele suiwerings­pro­ses gegaan waarin die finale ont­smet­ting deur middel van chloordose- ring bewerkstellig word. Daar is waarvan ons bewus is nog geen geval van fekaal-orale verspreiding van die Covid-19-virus bevestig nie.

Ons wil egter net weer beklemtoon dat dit steeds raadsaam is om sekere punte in gedagte te hou indien u sou besluit om u tuin met die gesuiwerde rioolwater te besproei:

• Maak seker u was u hande met seep en skoon water nadat u in aanraking was met die gesuiwerde rioolwater, en dra skoene (en selfs handskoene) indien u enige seerplekke of wonde het.

• Geen wortelgewasse soos aartappels, geelwortels, patats, uie, ens moet met die gesuiwerde rioolwater benat word nie. Moet dit liefs vir geen vrugte of groente gebruik nie. Alle vrugte en groente moet in elke geval deeglik gewas word voor gebruik.

• Indien u grasperke besproei, is dit raadsaam om nie onmiddellik op die gras te loop of speel nie. Laat die gras­perk eers vir ’n dag of twee in die son droogword voor gebruik. Die UV-strale help baie met ontsmetting.

Die samewerking van die Oudts­hoorn-gemeenskap om water te spaar is verblydend en die moeite wat gedoen word om gesuiwerde rioolwater te gebruik, word hoog op prys gestel.

Kan trots wees op Mediclinic

Ek en my man is onlangs vir twee weke in die Mediclinic Klein Karoo opgeneem weens Covid-19.

Graag wil ons vir al die dokters en personeel wat by ons behandeling betrokke was, baie dankie sê. Ons is met die grootste deernis en professionali­teit hanteer.

In ’n baie moeilike tyd was julle soos engele wat op ons pad gestuur is om ons deur te dra. Julle toegewydheid, vriendelikheid en empatie (ten spyte van lang ure diens) sal ons altyd bybly.

Julle kan trots wees op jul Mediclinic hier in die Klein Karoo.
– Miemie van Niekerk

As vry mense het ons nie ’n idee wat ons bejaardes moet deurgaan nie

Graag skaar ek my by dr Wessel Vermeulen se waarnemings in sy skrywe op 5 November. My verdere skrywe is met insig omdat ek betrokke is by siekeboë en talle vriendinne het wie se ouers daar is. Party is vol lof vir die personeel, maar ander het skreiende verhale oor die jare gefluister. Hierdie gefluister is omdat baie gou met hofsake gedreig word as iets teen ’n stelsel/instansie geopper word.

Vir mnr Deon Haasbroek (skrywe op 26 November) om te opper dat hy alles weet wat in siekeboeë aangaan, is nogal ver van die waarskynlike waarheid.

Hy verseker dr Wessel dat “dit nie ’n kwessie van wrewel of frustrasie is wat op inwoners uitgehaal word nie.”

Moontlik kan hy verduidelik wat is dit dan wat maak dat ’n verpleegster ’n blinde hoogs bejaarde vrou op ’n wintersnag naak, met ’n laken om haar klam liggaam, die gang stort toe boender omdat sy vies is dat die bed benat is … nadat die inwoner herhaaldelik die bedklokkie gelui het vir hulp.

Hierdie inligting moes haar besorgde dogter uit haar mammie trek omdat sy kon sien sy is nie haarself nie (hoogs angstig).

Haar ma wou nie praat nie omdat sy geweet het haar elke-dag-besoekende dogter sal die personeel woedend konfronteer en is sy daarom bang vir afknou sodra sy weg is.

  • En dis ’n feit dat dit in sommige versorgingsplekke gebeur waar bejaardes swak, magteloos en stemverlorend geraak het … en van die personeel waarskynlik net vir die salaris daar is, met min deernis en passie vir hul Godgegewe werk.

    Dieselfde moeder het, soos die jare aanstap, snags koud gekry omdat nagpersoneel haar verwarmer kantoor toe gevat het of so om dit in haar kamer geskaar het dat geen hitte by haar uitkom nie. Haar liggaamlike toestand het verhoed dat sy die komberse bo haar skouers kon optrek.

    Ten einde laaste het haar dogter haar met ’n trui laat slaap.
    Op die verwysing in die skrywe na “ “’n sterwende se familie is met empatie hanteer en nie net botweg geweier nie…”: Einde Augustus is ’n vriendin fisieke kontak met haar sterwende pa (nie aan Covid-19 nie) eers ’n uur en driekwart voor hy sy laaste asem uitgeblaas het, toegestaan. Geen laaste woorde kon gewissel word nie. Nogal traumaties vir beide kante. Die talle smekinge van hier­­die kind-vrou om haar pa vir oulaas rustig te kry en vredig die hiernamaals in te mog begelei, is wreed deur reëls versmoor wat vreesagtig-slaafs nage­volg is.

    Ek wonder hoeveel bejaardes die afgelope nege maande aan “natuurlike oorsake” gesterf het; nie aan Covid-19 nie. Weens streng maatreëls dat slegs versorgers die siekeboeg mag ingegaan het, is dit ook duidelik dat Covid juis deur versorgers oorgedra is.

    Op die verwysing “Ek kan u verseker dat daar by die oord waarvan ek kennis dra, besonder baie moeite gedoen is om die prosedure tov Covid-19 aan inwo­-ners te verduidelik en hul samewerking te vra.”: ’n Bejaarde, gekluister in ’n siekeboeg, floreer nie op steriliteit en verduidelikings nie. Soos in die skrywer Elsa Joubert se hartroerende pleitdooi in ’n brief skryf sy dat Skype, Whats­App en video’s nie genoeg is om haar eensaamheid te verdryf nie. Sy het haar eie mense se liefde, vertellings en aanraking nodig.

    As vry mense het ons nie ’n idee wat ons bejaardes moet deurgaan nie. Behalwe afskeep deur familie, selfs in dieselfde dorp of nabygeleë plase en stede, word hulle subtiel gemanipuleer om van hul lekkernye af te staan. Die bang bejaarde doen dit, want hy/sy weet nie wat die gevolg kan wees nie…

    Ook weet ons van klere en beddegoed wat wegraak, gesteel deur perso­-neel. En so word ook skenkings aan staatsaftreeoorde al minder omdat al bevind is dit klee verkeerde buite-persone.

    My moeder is in ’n vooraanstaande siekeboeg in Pretoria oorlede – aan breinbloeding as gevolg van ’n val uit haar bed. Die bedreling was nie opgetrek nie. Sou ’n hofsaak haar terugbring?

    Tydens een van my besoeke, toe die verpleegster die roetine skoon oortrek van die bed doen, het ek agtergekom sy slaap op ’n matras wat na uriene ruik. Dit blyk toe dat die personeel so gewoond raak aan die reuk dat hulle dit nie meer waarneem nie. Waar was die nodige plastiek- matrasoortreksel waarvoor die familie moes sorg?

    My stilgemaakte mamma (deur talle broers) was bekend as die eensame vrou; selfs in die aangrensende aftree­-oord. Al die prag en praal van dié posh plek kon nie haar vele besige kinders in dieselfde stad beweeg om haar gereeld te besoek of uit te neem nie. Haar persoonlike versorger het wonderbaarlik uitgehou met ’n mevrou wat nie praat, nie deel nie, en tog haar taal, Sotho, vlot kon praat. ’n Vrou wat nie haar waarde bo korale besef het nie en met niemand wat haar selfvertroue wou teruggee nie.

    Kom ons weerhou ons van uitsprake wanneer ons dink ons weet, maar eintlik nie weet nie. En mag Covid-19 ons wakker skud met die besef van die aftakelende uitwerking – fisies en psigies – van eensaamheid en nie-liefde, nie-aanraking en min stimulasie van jou eie mense. En onthou – êrens in jou agterkop – dat jy eendag ook daar sal wees en dit wat jy saai, sal jy eendag bymekaarmaak.
    – Anoniem, Oudtshoorn

’n Groot waardering vir dié skrywes

Ek is ’n inwoner van ’n ACVV-aftree­oord van Oudtshoorn. Ek het dr Vermeulen se skrywes oor die afgelope tyd gevolg en het groot waardering vir alles wat hy sê omdat ek dit persoonlik hier in ons aftreeoord ervaar het.

Daar is dikwels nie na inwoners se versoeke en behoeftes geluister nie. Ek het gesien hoe inwoners fisiek en emosioneel agteruitgaan as gevolg van isolasie en sekere vryhede … soos die natuur.

Ek stem nie saam met mnr Haasbroek se stellings in sy brief nie. Hy dra duidelik nie kennis van al die aftree­-oorde op Oudtshoorn nie.

Dr Vermeulen se stellings is altyd goed deurdag en hy maak seker van sy feite voordat hy dit aan die publiek voorhou.
– Inwoner, Oudtshoorn