Kommentaar op besluite by vergaderings van die raad
Die plaaslike pers verdien om geprys te word vir hul volledige verslaggewing oor die afgelope raadsvergaderings. Sodoende word die belastingbetaler op hoogte gehou van wat bespreek en besluit is en kan dan ook goeie insette lewer. Dit kan bydra tot eerbare en effektiewe dorpsbestuur.
Ek lewer graag die volgende kommentaar oor aangeleenthede wat bespreek is.
Werksessie vir raadslede in luukse hotel
Hierdie is beslis ’n vrugtelose uitgawe en raadslede Jansen en Campher moet gekomplimenteer word vir hul standpunt om dit nie by te woon nie. Die burgemeester se uitspraak dat raadslede wat ongelukkig is, klagtes by die speaker moet indien, is hoogs onverantwoordelik aangesien die speaker slegs klagtes teen raadslede ondersoek. Dit is egter sy verantwoordelikheid om dit te ondersoek en ’n verslag na die raad te bring. Skram hy nou weg omdat van die raadslede wat betrokke was, nou deel is van sy koalisie?
Politieke aanstellings
Die politieke aanstellings in die kantore van die burgemeester, onderburgemeester en speaker eindig op dieselfde dag wanneer ander politieke leiers aangestel word. Die voortsetting daarvan om steeds die betrokke amptenare te betaal terwyl daar reeds ander aanstellings is, is ongemagtig en moet verhaal word. Die burgemeester moet dit stop en toesien dat die geld verhaal word.
Die plan om senior amptenare verbonde aan politieke partye wat deel is van die koalisie aan te stel om die partye binne die koalisie te hou, is hoogs onverantwoordelik en nie in belang van die dorp nie. Die ANC-koalisie moet wanneer dit gebeur, ’n klag by die openbare beskermer indien.
Oortyd van amptenare
Amptenare se oortyd, siekverlof, gebruik van munisipale voertuie en verkeer is administratief en gevolglik die verantwoordelikheid van die munisipale bestuurder. Dit is onprofessioneel van raadslede om dit te bespreek aangesien hulle geen kennis dra van hoe evaluering geskied nie. Oortyd sal daar altyd wees want wie anders moet dan die pype wat saans en oor naweke breek herstel?
Uitstaande skuld
Die invordering van raadslede se uitstaande skuld vir oorbetalings en hofsake, is die burgemeester se verant- woordelikheid om toe te sien dat dit betaal word.
Ek lees ook dat die burgemeester by die Besigheidskamer se vergadering genoem het dat die restaurant by die Grotte weer oop is. Het hulle die groot bedrag wat hulle die munisipaliteit skuld ten volle betaal?
Onwettige strukture
Die feit dat inwoners oral in die dorp strukture opslaan sonder toestemming en nogal met materiaal deur die raad verskaf, spreek van die koalisie se onvermoë om die dorp suksesvol te bestuur.
Die notule van die raadsvergadering waar hierdie aangeleenthede bespreek was, behoort op die volgende raadsvergadering te dien vir goedkeuring en dan behoort die burgemeester verslag te doen of alles afgehandel is. Hoop hierdie inligting kan AfriForum en ander strukture help om te verseker dat die raadsaal nie net ’n plek is waar baie gepraat word nie, maar wel verslag gelewer word van wat gedoen is.
Inmenging in aanstellingsproses
Het die burgemeester die twee raads-lede wat die burgemeesterskandidate gaan besoek het aangekla en indien nie, waarom nie. Wie is verantwoordelik vir die betaling van die firma wat die aanstellingsproses hanteer het en nou deur die burgemeester gestop word omdat die proses van voor af gaan begin?
– Kenner van plaaslike regering, Oudtshoorn
• Bostaande brief is aan die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, gestuur vir reaksie. Sy reaksie sal geplaas word wanneer dit ontvang word.
Dankie vir mooi Queen’s Mall!
As lid van Oudtshoorn-gemeenskap wil ek net graag baie dankie sê aan die eienaars en ontwikkelaars van die Queen’s Mall vir die mooi en netjiese opgradering aan die kompleks asook parkering.
Dit is ’n groot inspuiting vir Oudtshoorn en ’n plesier om daar jou inkopies te doen.
– Oudtshoorniet