Briewe van lesers: 14 Julie 2022

Inwoners nie ingelig oor boom se afkap

Die oorhaastige munisipale optrede deur sommer ’n boom in Baron van Reedestraat af te kap ten einde die verkeersopeenhoping by die kruising met Van der Rietstraat op te los, verwys.

Hier is nou al vir jare onderhandelinge oor die kruising tussen die inwoners en die owerhede, onder andere met die burgermeester en munisipale bestuurder. Per brief, per telefoon en verskeie inspeksies op die kruising.

Soms was die ingenieursfirma Lyners van George by en soms verteenwoordigers van die provinsiale verkeer. In alle gevalle was daar besorgde inwoners en eienaars van nabygelee huise en besigheidspersele ook teenwoordig.

Elke keer is daar beloftes gemaak dat die probleem opgelos sal word en dat daar met die besorgde groep inwoners gekommunikeer sal word.

Vir jare lank het egter niks gebeur nie. Daar is wel ’n verslag opgestel deur die Lyners met sekere aanbevelings, maar niks is gedoen nie.

Die probleem is dat daar in Baron van Reedestraat van twee rigtings in vier bane voertuie na die kruising aankom wat nie gaan wag vir verkeer uit Van der Rietstraat se oostelike of westelike rigtings nie.

Bo en behalwe die deurverkeer is daar voertuie wat links en regs gaan draai vanuit al vier Baron v Reede se bane, soms sonder flikkerligte. Dan is daar nog diegene wat U-draaie in die kruising maak en moet wag vir aankomende verkeer. Verder kan die verkeer vanuit Van der Rietstraat behalwe om reguit oor te ry, ook links of regs draai in Baron van Reede in.

Vir al ­hierdie moonlikhede moet die arme ­voertuie uit Van der Rietstraat eers wag en seker maak almal het hul ding gedoen voordat hulle kan ry. Duidelik ’n moeilike besluit, baie plekke om dop te hou en lang wagtye, veral as die pad besig is.

Vir die oplossing van die probleem by hierdie gevaarlike kruising, met sy baie ongelukke, moet daar behoorlike maatreëls getref word wat dit veiliger sal maak vir gebruikers van die kruising. Dalk ’n verkeerslig of ’n sirkel wat soveel soortgelyke probleme oor die wêreld heen opgelos het.

Maar wat gebeur toe. Ná druk deur die inwoners kom die parke-afdeling sonder konsultasie of bywoning van vergaderings met die besorgde inwoners, of inagneming van die ingenieursverslag, en kap sommer ’n kosbare ou boom af wat nie regtig die uitsig versper het nie.

Pandemonium. Die verkeersprobleem is nog onaangeraak. Elkeen by die kruising is nog aan sy eie genade oorgelaat om moeilik ’n veilige oorgang te maak. En die vanselfsprekende oplossing, ’n verkeersirkel of robot, word by voorbaat deur die ingenieurs afgeskiet. Nou word daar as oplossing beplan om die twee bane in Baron v Reede, weerskante van die kruising, in een baan te forseer.

Hoe op dees aarde sal dit die verkeersvloei bevorder?

’n Mens kan nie help om te wonder hoekom Oudtshoorn altyd so afgeskeep word nie, en met minagting hanteer word. Wanneer gaan ons ’n bevoegde munisipaliteit kry? Wanneer gaan hulle na die inwoners luister? Ek slaan my oë op na die berge!
– Leon Coetzee, Oudtshoorn

Belet tuinslang vir motorwas

Te oordeel aan die gebruik van water om voertuie te was, lyk dit asof baie mense nie besef dat ons in ’n droogtegeteisterde streek woon nie.

Tuinslange veroorsaak dat klein ri-viertjies of damme in strate gevorm word.

Ek stel voor dat ons munisipaliteit reg deur die jaar die gebruik van tuinslange om voertuie te was moet belet.

’n Klein mop is handig om uit ’n emmer die taak te verrig. Jy kry ook meer oefening!

Ek vertrou dat ons stadsraad in hierdie saak sal saamwerk.
– Inwoner, Oudtshoorn