Briewe van lesers: 13 April 2023

Die 60 jare oue “seder” was toe al die tyd die skuldige

Daar is die laaste paar jaar gereeld in detail berig oor die motorongelukke op die hoek van Baron van Rheede- en Van der Rietstraat.

Tientalle vergaderings en gesprekke en besoeke het o.a. gelei tot die aanstelling van kundiges om die kruising te ondersoek en om voorstelle te maak ten einde die kruising veiliger te maak.

Honderde duisende rande is só spandeer wat nie tot die vermindering van een enkele ongeluk gelei het nie.

Op 7 Julie 2022 berig Die Hoorn dat die munisipaliteit die Jakarandaboom naby die kruising afgesaag het in ’n poging om groter sigbaarheid by die gevaarlike kruising te bring.

En siedaar, probleem opgelos!

Ek is nie bewus van ’n enkele ongeluk na 7 Julie 2022 nie.

Baie dankie aan die amptenaar wat die besluit geneem het en toegesien het dat dit uitgevoer word, jy spaar die publiek baie geld aan voertuig-herstelwerk en ongerief en het ook deur jou heldhaftige daad, baie beserings en moontlike noodlottige ongelukke verhoed.

Ons het meer sulke doeners in Oudtshoorn nodig.

– Anoniem