Werk die munisipale amptenare werklik? (2)
Dit kom voor asof ons inwoners dieselfde ervaring met munisipale amptenare ondervind as mnr Johan Wage- ner (brief van 11 Mei 2017 in Die Hoorn).
Ek het sedert 11 Oktober 2016 twee navrae per e-pos aan die munisipaliteit gestuur sonder enige reaksie van hul kant af. Hierna het ek by herhaling gepoog om antwoorde op my navrae te kry. Ek het met die aanmanings ook ’n afskrif van die navrae aan ’n raadslid gestuur met die versoek dat hy moet toesien dat my navrae op die regte lessenaar beland vir die nodige stappe. Ook dit het nie gehelp nie.
Op 18 April 2017 met die bywoning van die GOP-vergadering het ek hierdie korrespondensie aan die munisipale bestuurder, mnr Allen Paulse, oorhandig. (Tydens hierdie vergadering het sommige aanwesiges sterk beswaar gemaak teen die feit dat navrae net nie beantwoord word nie.) Die volgende dag, 19 April 2017, het ek uit mnr Paulse se kantoor ’n e-pos ontvang dat my navrae na die verantwoordelike amptenare verwys is. Die een navraag van my is toe die volgende dag afgehandel.
Op die tweede navraag wat finansiële implikasies het, het ek na drie dae ’n onkundige en onprofessionele antwoord ontvang waarmee ek nie saamgestem het nie. Dit geniet nog aandag. Dit kom voor asof die munisipaliteit nie ’n stelsel in plek het wat toesig, ver-antwoordbaarheid en verantwoordelikheid van die amptenare kan bepaal en vaspen nie. Ek het ’n voorstel aan die munisipaliteit gemaak hoedat hulle verantwoordbaarheid en pligsversuim kan bepaal ten einde op te tree teen onbevoegde amptenare en van hulle ontslae te raak. Ek maak die afleiding aan die hand van my tweede navraag wat nog uitstaande is, dat amptenare nie oor die nodige opleiding, kennis en vaardighede beskik om navrae te hanteer en af te handel nie.
Ek is ingelig dat interne indiensopleiding tans plaasvind wat hopelik die probleem sal verlig. Kom ons kyk wat gebeur.
– Bart Vosloo, Oudtshoorn
Reaction to sms about helicopters
Dear Mr Keene, I have read your sms with interest.
At first thoughts I wanted to ignore your sms. But as a resident of Oudtshoorn myself, I felt it necessary to bring the following to your attention:
1. Are you aware of the fact that there is an aeromedical helicopter service with its base in Oudtshoorn?
These people can be called out day or night and in all kinds of weather.
Apart from this, they also, for training purposes, have do some night flying exercises to stay proficient in night flying.
2. We also have the South African Airforce that visits Oudtshoorn from time to time. They also fly day or night and in all kinds of weather.
3. A third group is individuals that own helicopters, generally for business purposes where time is money.
Generally they are well-trained people who are able to fly day or night and in all kinds of weather.
The above entities and individuals cannot allow themselves to be dictated by citizens like yourself and me when they are allowed to fly or not.
I would like to suggest that you make peace with this and accept the occasional night flying in the clear skies of Oudtshoorn.
I am not a spokesperson for the Oudtshoorn flying community.
Regards
– Chris Hougaard, Oudtshoorn
Hoe sou u gevoel het?
Verlede week het ek ’n aanduiding probeer gee van hoe moeilik dit is om reaksie te kry van die munisipaliteit (op korrespondensie).
Hierdie geval gaan nog ’n stappie verder. Die munisipaliteit het in hul wysheid ’n aantal jare gelede nie Oudtshoorn-prokureurs gebruik om oordragte van vaste eiendom te hanteer nie, maar onder andere ene Nandi Bulabula Ingelyf opdrag gegee.
Gedurende 2014 het die prokureurs die dokumente behoorlik onderteken en deur die koper aan die munisipaliteit van Oudtshoorn gestuur vir ondertekening. Tot vandag toe is dit nog nooit gedoen nie.
Die papierroete lyk soos volg:
2 Maart 2016: Skrywe aan munisipaliteit deur prokureurs Nandi Bulabula Ingelyf waarin bevestig word dat die koopkontrak reeds op 9 Februarie 2014 deur die koper onderteken is en dat dit dieselfde maand nog na die munisipaliteit gestuur is vir ondertekening. Niks het gebeur nie.
16 Maart 2016: E-pos aan munisipaliteit van Oudtshoorn om te vra wat verwikkelinge is.
Ontvangserkenning van munisipaliteit.
22 April 2016: Verdere e-pos aan Oudtshoorn Munisipaliteit.
28 April 2016: E-pos aan munisipaliteit.
3 Junie 2016: E-pos aan Munisipaliteit.
20 Junie 2016: E-pos aan Munisipaliteit.
22 Julie 2016: E-pos aan Munisipaliteit (let daarop dat op geeneen van hierdie e-posse is geantwoord nie).
11 November 2016: Skrywe aan burgemeester van Oudtshoorn met afskrifte van al die korrespondensie – geen antwoord ontvang nie.
1 Desember 2016: Skrywe aan burgemeester van Oudtshoorn – geen antwoord van hom ontvang nie.
23 Januarie 2017: ’n Amptenaar van die munisipaliteit skakel en bevestig dat dit aan die burgemeester se professionele en persoonlike assistent gestuur word. Geen reaksie is verder ontvang nie.
22 Februarie 2017: Skrywe aan burgemeester – geen antwoord nie.
As u ’n eiendom aankoop by die munisipaliteit en u word so behandel, hoe sou u voel?
Ek wonder net hoe die munisipale bestuurder en die burgemeester sou gevoel het as hulle so behandel was in gevalle waar hulle eiendomme aankoop?
Volgende week praat ons verder.
– AJ Wagener, Oudtshoorn
(Die briewe oor dienslewering – ook deur die munisipaliteit onder vorige bestuur en onder administrasie – is aan die munisipaliteit deurgestuur vir reaksie. Liesel le Roux, redakteur)
Sluit asb vir Hemelvaartdiens
Ek wil hiermee ’n beroep op Christene doen om hul ondernemings gedurende die Hemelvaartdiens op 25 Mei 2017 te sluit en die diens by te woon.
As ek die situasie in ons land en dorp gadeslaan, is Christus se koms naby.
Ons dorp is geknel deur droogte – net jammer dat ’n biddag vir reën nooit gereël is nie.
Ek vertrou dat Christene in groot getalle by die Hemelvaartdiens sal opdaag en ons Vader sal dank vir sy genade teenoor ons sondaars betoon.
– Lampies Lamprecht, Oudtshoorn
Stop leë beloftes
Te oordeel aan die talle sms’e en briewe met klagtes wat weekliks verskyn, is dit baie duidelik dat die nuutverkose stadsvaders dit wat hulle belowe het, nog nie kan lewer nie.
Dit is nie net Oudtshoorn wat vuil en morsig is nie; kom kyk hoe lyk jul buurdorp De Rust. Ekself het al verskeie kere hieroor geskryf en vrae gevra, maar geen reaksie tot dusver ontvang nie. Daar is weer baie beloftes gemaak deur die nuutverkose raadslede, maar nou is hulle stil – wat doen hulle?
Meneer die burgemeester het in ’n stadium gespog met die vloot van nuwe voertuie wat aangekoop is om ’n beter diens aan die gemeenskap te lewer – watter diens? Ek sien nog nie ’n verbetering nie.
Die bou van derduisende huise word al weer beloof. Is dit moontlik? Die dorp is dan bankrot.
Kyk hoe lyk dit van rommel. Die middedorp het ook onveilig geword om inkopies te doen, veral vir die ouer mense.
Straatkinders en selfaangestelde karwagte voer soms ’n skrikbewind. Daar was al verskeie voorvalle, maar niemand doen iets daaraan nie. Waar is die nuwe wetstoepassers en wat mag hulle doen?
Daar is buurdorpe wat beter lyk en waar dit beter gaan omdat dit beter bestuur word en amptenare meer produktief is. Raadslede moet hul verantwoordelikhede nakom, hulle word baie betaal. Dan sal daar ook minder gekla word.
Politici moet ophou om enige beloftes te maak. Dit laat gemoedere opvlam wat maak dat die land brand – soos ons gesien het.
– Albert Schoeman, De Rust