Briewe / Letters

4 KPO 1

Hartseer oor dienssentrum vir bejaardes

Om daagliks verby die gebou wat die KPO (Kaaplandse Professionele Onderwysersunie) destyds tot die be­skik­king van die Dienssentrum vir Be­- jaardes gestel het, so te sien toe staan, is vir my, die stigter van die sentrum, ’n hartseer saak.

Dit terwyl ons senior burgers moontlik elke dag hul laaste jare in eensaamheid by die huis moet deurbring.

Onder my leiding as voorsitter was dit die gebou waarna die seniors daagliks in groot getalle opgetrek het om die dag vir mekaar aangenaam in mekaar se teenwoordigheid te maak. Daar is kore gesing, speletjies gespeel, geoefen en gereeld uitstappies onderneem. Toere wat selfs vliegtuig- en treinritte ingesluit het, is onderneem na Durban, Port Elizabeth, Kaapstad en Knysna.

Dit is ’n verantwoordelike gemeenskap se verantwoordelikheid om hande te vat en toe te sien dat hierdie sentrum so gou as moontlik weer aan die gang kom.

Hierdie moeders en vaders het elk­een hul bydrae tot ons gemeenskap gemaak en verdien beslis beter.
Ek onderneem om die bal aan die rol te sit en beplan ’n ontmoeting met maat­skaplike dienste en die burgemeester as die belangrike rolspelers. Gelukkig het ons agbare burgemeester Colan Sylvester ’n passie vir gemeenskapaangeleenthede soos hierdie en weet ek dat die raad ook ’n politieke wil het om dinge te laat gebeur.

Ek doen verder ’n beroep op kerke, besighede en die senior burgers self om my te skakel sodat daar vroeg in 2018 om ’n tafel gesit kan word om die pad vorentoe te bepaal.
– Japie Coetzee, Oudtshoorn