Briewe / Letters

Tartanbaan word misbruik

Na aanleiding van die onlangse brief van Chris Bredekamp oor allerhande byeenkomste, wat niks met sport te doen het nie, wat op die tartanbaan op Oudtshoorn plaasvind, die volgende.

Dankie tog, daar is nog iemand wat dit raaksien! Ek oefen al 12 jaar op die baan. Ek sien hulle kom en gaan – die misbruik van die baan. Ek wens ek kon elke keer wys hoe dit lyk na sommige gebeurtenisse op die baan. Dis ’n storie om te vertel!

Ek het al so ver gegaan as om ’n petisie op te trek, te laat teken en ingedien by die munisipaliteit. Foto’s is geneem, Die Hoorn het dit geplaas van die chaotiese toestande na get togethers op die baan met van die duurste leë drankbottels op die paviljoen, en ook hoenderbene, koutjies kougom op die baanoppervlak. Noem dit maar op.

En die beste van alles: vir alles waarvoor hierdie fasiliteit misbruik word, is daar wel spesifieke geriewe, maar nee, die tartanbaan! Daar is hoeveel skole wat maar te graag hul fasiliteite sal wil verhuur met pragtige grasbane en pa­viljoene!

Die tartaanbaan se baanoppervlak is net meer as ’n jaar gelede plek-plek op­geknap en nou, enkele weke gelede, voor ons meesteratletiekbyeenkoms moes ek en twee werkers by die baan ’n gat in die tartan lap en stop!

My pleidooi gedurig: Mense, ons wil Oudtshoorn die sportmekka van die Suid-Kaap maak, en ons kan nie eens kyk na wat ons het nie. Dis al tartanbaan vanaf Port Elizabeth tot in die Paarl en ons misbruik dit.

Ek is nie ’n doemprofeet nie, maar Atletiek SWD se hoofkantoor is in George gesetel en as George die dag ’n tartanbaan kry, is dit neusie verby vir enige groot atletiekbyeenkomste hier.
– Toy Ungerer (voorsitter SWD Meesters), Oudtshoorn