Wat beteken dit om raadslid te wees?
Die aktrise Greta Garbo het gesê: “So many men around me, but so few who can afford me.” Is dit miskien dieselfde wat gesê kan word van die standaard van raadslede? Kan ons belastingbetalers hulle bekostig? Die antwoord is onomwonde: Nee.
’n Raadslid kry ’n salaris wat skrik vir niks. En, onwillekeurig, moet gevra word (deur die belastingbetalers) wat beteken hulle vir ons dorp? Om ’n gebalanseerde en objektiewe antwoord daarop te verskaf, moet gekyk word na wat van hulle verwag word en met wie moet hulle vergelyk word.
Politiek is ’n vieslike ding. Raadslede gaan raad toe met ’n voorafbetaalde kaartjie op die politieke soustrein. A free joyride. Maar eintlik besef hulle nie waarvoor hulle hulle inlaat nie. Hulle besef nie dat hulle as hulle op die raad sit die direkteure is van een van die grootste “maatskappye” op Oudtshoorn nie. Onder hulle val die begroting, die instandhouding van ons dorp se infrastruktuur en die invordering van belasting en elektrisiteitsverbruik wat sekerlik die grootste bronne van inkomste is.
Daar is 25 van hulle van verskillende politieke denominasies. Voor die ver-kiesing word kiesers hemel op aarde belowe, wat kospakkies, kortings en vele meer insluit. En so word vir hulle gestem.
Tydens die laaste verkiesing is die meeste stemme ten gunste van die DA uitgebring. Toe ek die name van die nuwe raadslede sien, kon ek net my kop skud. Daar was nou DA-raadslede wat al behoort het aan Patricia de Lille se partye, die ANC en nog ’n hele spul ander partye. Maar in daardie stadium was die DA se beeld die gerieflikste om te verkondig. Dit was egter net tot die nuwe DA-raadslede se ware natuur en kleure na vore gekom het.
Toe word die DA-koukus weer vrot en hulle kan nie ons dorp regeer en beheer en dien nie. Skandelik!
Nou moet ons onthou die betaling wat raadslede nou kry, plaas hulle in ’n redelike hoë belastingskategorie en soos die ou spreekwoord sê: Geld wat stom is, maak reg wat krom is. Tot dit waarin hulle werklik glo, oorneem.
Dan gebeur dit wat nou in Oudtshoorn gebeur het – DA-raadslede wat saam met die opposissie loop en die werksaamhede van die raad strem.
Om alles te kroon is die munisipale bestuurder op verpligte verlof geplaas (’n man wat bykans R2,8 miljoen per jaar kry). Die DA-aangestelde burgemeester is ondersoek (ek het ’n voëltjie hoor fluit dat hy voorheen ’n ANC-lid was, maar kan nie vir die waarheid instaan nie, behalwe dat ’n DA-raadslid dit vir my gesê het) en toe bedank hy sommer! Dan was daar mos ’n slang in die gras. Agbare raadslede, jul doel en verpligting is om die belastingbetalers se geld vir ons dorp aan te wend. Nie om die munisipaliteit te sluit weens Covid-19 nie. Ons dorp staan stil. Ons dorp gaan agteruit. Ons dorp stagneer. Ons dorp is vuil. Ja, so kan ek aangaan, maar as ek die voorafgaande sê, kry ek seer. Ek voel verlam. Hulpeloos. Ons dorp bloei. Rome is aan die brand en raadslede stry onder mekaar.
Ek vra: Asseblief, plaas ons dorp eerste en uself tweede. U is nie groter as die saak nie, en ek wil die vertroue uitspreek dat die koalisie nie net weer oor ’n paar maande uitmekaar sal spat nie. Ek en duisende belastingbetalers kyk op na u. Moet ons nie weer teleurstel nie.
Besighede maak toe. Werkloosheid skiet die hoogte in. Kry dus u perso-neel by die werk. Hulle word betaal daarvoor. U is nou ons enigste hoop en u moet nooit skaam wees om raad te vra by sakemanne en ander inwoners nie. Ek wens u sterkte toe. Die nuwe leier is ’n yster. Vat sy hande.
– Johan Wagener, Oudtshoorn
Mag ek jou hand vat om waarde toe te voeg op ons dorp?
Ons dorp het ongelooflike potensiaal. In die toerismebedryf is ons wat hulle noem ‘a destination town’.
Dit behoort ons geweldig opgewonde te maak omdat die toerismebedryf ’n dorp finansiëel onderhou.
Vir elke ‘ondergaan’ moet daar ’n ‘opkom’ wees en daarom weet ons met sekerheid dat toerisme binne die volgende jaar deur die oppervlak van die water sal breek.
Wat is dit wat toeriste op ons dorp ervaar? Daar is ’n verskil tussen ons binnelandse en buitelandse gaste. Ons binnelanders hou van ‘local is lekker’ en kom graag vir die KKNK, die jeugsportbyeenkomste, en sluit dan ’n aktiwiteit soos die Kango Grotte of Kroko- dilplaas in.
Hoe ervaar ons binnelanders die dorp? Is ons vriendelik, hulpvaardig, gemoedelik en geduldig? Kla ons oor die verval óf spreek ons woorde van ’n beter toekoms?
Ons as Suid-Afrikaners kan maklik kla. Om die waarheid te sê ons hét baie om oor te kla. En natuurlik is dit onmoontlik om verantwoordelikheid te neem vir diegene wat nie omgee wat rondom hulle gebeur nie. Maar, en ek haal my hoed vir die wonderlike individue af, daar is mense wat besonder baie omgee.
Die projek aan die westekant van die dorp, soos wat jy inkom vanaf Calitzdorp, maak my opgewonde, en elke keer wat ek tussen die nuutgeplante klein boompies en handgepakte klippe verbyry, sê ek dankie vir mense wat omgee. Nie net vir hoe die omgewing lyk nie, maar ook vir hoe ons gaste die ‘inkom’ in die dorp ervaar.
Daardie ‘inkom’ is meer emosioneel as fisiek en dis waar ons waarde as dorpenaars (moet) lê.
Ons oorsese gaste word hoofsaaklik in twee groepe verdeel. Daar is die toergroep wat slegs een of twee nagte hier tuisgaan.
Ek vermoed die grootste aantrekkingskrag vir hulle is, naas die vol-struisplase, die Kango Grotte.
Dié groep probeer soveel as moontlik in so min as moontlik tyd sien. Hulle is gebind deur ’n reisprogram en kom nie met my en jou in aanraking nie.
Die tweede groep is die gesinne wat self per motor deur die land reis. Dié gesin bestaan uit ’n man, vrou en twee of drie kinders. Wat hierdie gesin spesiaal maak, is die wete dat hulle beïnvloedbaar is. Hulle vra gewoonlik: “What do you suggest we go and see?” Hulle is ook die reisigers wat die mense van die dorp wil ontmoet. Maak ek en jy dit moontlik met ’n glimlag, wat gesels meer toeganklik maak? Gesels ons sommer uit ons eie uit met hulle?
Wat kan ek en jy doen om waarde toe te voeg? As individue voel ons nutte-loos, maar ons is nie!
Elke groot einde het met ’n klein in-set begin. Hier is my toevoeging: Op die eerste dag van elke maand, gaan ek voor my huis vee. Ja, ek gaan my besem neem en self die sypaadjie skoonmaak.
En die dag wat ek dit nie kan doen nie, gaan ek my regterhand in die tuin vra om dit namens my te doen. Vee gaan ons dus vee en ons gaan dit geniet!
Dis ’n begin. Ek het waarde en my waarde voeg waarde toe. Saam met jou word dit sinergie. Ons het mekaar nodig. Mag ek jou hand vat?
– Hanri, Oudtshoorn
Hoe hernu ek ’n voertuiglisensie?
My voertuiglisensie het in Mei verval wat beteken dat ek tot einde Augustus het om te hernu.
Ongelukkig kon ek dit nog nie regkry nie.
Ek bly buite De Rust en kan nie gereeld Oudtshoorn toe kom nie. Ek word as ’n hoë risikogeval vir Covid-19 beskou. Ek het egter verskeie kere probeer om die lisensie te hernu, maar of daar is ’n laaaaaaang tou, of die kantoor is toe. Ek het die verkeersdepartement ’n paar weke gelede geskakel en ’n dame het gesê ek kan dit aanlyn doen en vir my ’n webadres gegee. Ek het probeer, maar dit het nie die adres aanvaar nie. Die kantoor is weer toe so ek kon nie weer kontak nie.
Het jul dalk by Die Hoorn so ’n website adres? Ek weet dat van die ander munisipaliteite so ’n diens het, maar kan nie op Oudtshoorn Munisipaliteit website so iets kry nie.
Ek is bekommerd dat as ek nie die lisensie voor die einde van die maand kry nie sal ek beboet word.
Sal terugvoer waardeer.
– A Van der Merwe, De Rust
Die Oudtshoorn Verkeersdepartement antwoord soos volg:
- Die persoon kan die lisensiefooi direk in die munisipale bankrekening betaal indien die fooi bekend is aan hom/haar. Die besonderhede is soos volg:
Begunstigde: Oudtshoorn Munisipaliteit
Bank: Standard
Rekeningnommer: 082 809 097
Verwysingsnommer: Voertuigregistrasienommer
Die Verkeersafdeling sal die transaksie verwerk en die persoon skakel om lisensie te kom afhaal. - Gaan na https://online.natis.gov. za/#/ en laai jou voertuiglisensie se hernuwingskennisgewing (MVL 2) daar af na die aanlynregistrasieproses op die RTMC-webblad.
• Oudtshoorn se verkeerskantoor is Saterdag oop. Lees verder hieroor by die berig: Covid-regulasies: Hieroor sluit Verkeerskantoor.