Sms’e van lesers

■ Ek sien behuising is nou ’n direktoraat met ’n direkteur aan die hoof. Wanneer is die pos van direkteur geadverteer en hoe is dit moontlik dat so ’n departement wat veronderstel is om onder gemeenskapdienste te val, ’n direktoraat te kan wees? Die groot salaris van hierdie direkteur is beslis ’n vrugtelose uitgawe.

Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, antwoord soos volg: Die waarnemende direkteur behuising, Shehaam Simms, is deur die Wes-Kaapse regering na Oudtshoorn gestuur om die groot behuisingsnood in die munisipaliteit aan te spreek en word deur hulle betaal. Daar is nie tans ’n aparte departement behuising by die munisipaliteit nie (dit val steeds onder gemeenskaps- dienste), maar omdat dit so ’n belangrike afdeling is, het die uitvoerende burgemeester voorts ingevolge sy gedelegeerde magte vir raadslid Noluthando Mwati as ’n Seksie 80-komiteelid aangestel om die portefeulje behuising onder haar vlerk te neem en daardeur lid van die burgemeesterskomitee te vorm. Die raad beoog om ’n permanente hoof van behuising aan te stel en die pos plaaslik en nasionaal te adverteer.

■ My opregte dank en waardering aan ’n ieder en elk wat hul maskers dra en aan diegene wat dit nog nie dra nie, oorweeg dit asseblief, ter wille van jouself, jou geliefdes en jou nie-so-geliefdes. Pieter

■ Wanneer word die vorige burgemeester en raad aangekla vir die gemors met die informele nedersetting by die begraafplaas? Al die blomme word van die grafte afgehaal en die begraafplaas is nou die kinders se speelpark. Ons wag nou vir die nuwe burgemeester en waarnemende munisipale bestuurder se daadwerklike en onmiddellike optrede

■ Die aandklokrëel: Geld dit net vir sekere mense of vir almal? Vanaf die köoperasie tot by die draai by die perdeklub jaag die mense in die nag soos duiwels! Waarheen gaan hulle en wat vervoer hulle? Van inwoners, Parkweg-Suid

■ Het Oudtshoorn nog verkeersmense, want daar heers algehele chaos in die sentrale dorpsgebied. Vragmotors staan op die ryvlak in Hoogstraat wanneer hulle goedere op- en aflaai omdat ander voertuie op die laaisone parkeer. Taxi’s jaag soos besetenes en staan die ingang na die taxistaanplek vol. Waarom hoor jy nie iets van die hoof van verkeer nie? Die waarnemende munisipale bestuurder moet as ’n dringende noodsaaklikheid asb meer gekwalifiseerde verkeersmanne aanstel om te verseker dat ons paaie veilig is.

(Die laaste drie smsé is vir reaksie aan die Oudts­hoorn Munisipaliteit gestuur. Die munisipaliteit het aangedui dat dit aandag ontvang, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie. – Redakteur)