Straatkinders
Het iemand al daaraan gedink dat van die ouers van straatkinders wel ’n toelae van SASSA (“all pay”) maandeliks vir hulle trek?
Waar is mense wat verantwoordelik is vir die dag-en-nag sentrums?
U het belowe dat u die kinders van die straat sal hou – u word betaal vir u dienste gelewer – kom u belofte na, asseblief.
Ons seniors voel nie meer veilig op straat nie – ons sal graag meer polisie te voet tussen ons mense wil sien – en nie net in polisiewaens wat verbyjaag nie.
Die vraag is net – kan hul nog ’n skelm inhardloop?
– Cecile Ungerer, Oudtshoorn
(Cecile, daar was wel ’n dagsentrum – nie ’n nagsentrum nie – van Famsa vir straatkinders, maar sonder befondsing en ondersteuning kan Famsa nie voortgaan nie. – Red)
Munisipaliteit moet spaar
Orals word gekla oor die vuil toestand van ons dorp en met goeie rede.
As die munisipaliteit swart sakke voorsien soos dit hoort, sal daar ook minder vullis rondlê. Ek het laas sakke in die derde kwartaal van 2017 gekry. Navrae hieroor help ook nie. Is daar ’n tekort aan geld?
Ek het beter verwag van die nuwe bedeling. Nie almal het geld om sakke te koop nie.
Daar is egter blykbaar geld om kleurvolle nuusbriewe uit te stuur. Kleur-ink is heelwat duurder as swart wat dieselfde boodskap uitstuur. Gebruik die besparing om sakke aan te koop.
– Alleycat, Oudtshoorn
Stel regstappe in oor water
Die brief van Henri Botes in laas week se Die Hoorn in verband met die wettige vereistes van ’n munisipaliteit om skoon water aan inwoners te voorsien, spreek boekdele.
Ons versoek die Departement van Waterwese en die Oudtshoorn Belas-tingbetalersvereniging om regstappe teen die munisipaliteit in te stel – so gou moontlik – om te verseker dat ons arm gemeenskappe nie kort-kort modderwater moet drink nie.
Ons kan nie almal bekostig om gefiltreerde water by winkels te koop nie.
Ons doen ’n ernstige beroep op die burgemeester om ’n openbare vergadering te belê om die gemeenskap in te lig oor die onwettige praktyk wat die munisipaliteit toepas.
– Desmond Windvogel, Oudtshoorn (Volgens ons kennis het Oudtshoorn nie tans ’n funksionerende belastingbetalers-vereniging nie. – Red)
Boulevard pas darem nie hier
In verband met die voorgestelde naamsverandering van ’n straat in Oudtshoorn:
Ek wil uit die staanspoor sê dat ek nie ’n groot ondersteuner van naamsverandering is nie.
Ek kan nie help om te glo dat mense of instansies wat so ’n stap ondersteun, dit doen uit ’n onvermoë om iets nuuts tot stand te bring en hulleself dan maar daartoe wend om nie ou goed nuwe baadjies aan te trek nie.
Dit is ook so dat alhoewel Nelson Mandela ’n groot rol in ons land gespeel het, daar darem nou al meer as genoeg plekke na hom vernoem is, om nie eens te praat van al die standbeelde wat ter ere van hom opgerig is nie.
Alhoewel hy Oudtshoorn by een geleentheid besoek het, het hy nie ’n spesifieke rol in die dorp gespeel nie.
Die woord Boulevard – ek hoop ek het die gedroggie reg gespel, want ek, kry dit in geeneen van my woordeboeke nie – pas glad nie in ons dorp nie, maar moontlik wel in ’n plek soos Parktown North.
Ons moet darem daarteen waak om ons nou nie belaglik te maak nie.
As ons dan nou wel sover wil gaan om ’n paar strate in ons dorp te herbenaam, kan mens gerus daarnaan dink om sodanige strate of plekke na persone te vernoem wat diep spore in ons dorp getrap het. Daar is byvoorbeeld persone soos Nic Barrow en/of Jans Rautenbach.
Dalk is daar nog ander plekke in ons dorp wat geen name het nie.
Ek dink bv aan ons lughawe – ek het nog nie gehoor dat die plek ’n naam het nie.
– Kobus van Zyl, Oudtshoorn
Twee ure te lank vir wag by ’n bank
Kyk, as daar nou een ding is wat ’n redelike mens warm maak, is dit swak beplanning!
As mens ’n besigheid bestuur, is dit voor die handliggend dat jy ’n annalise van jou leemtes gaan maak en die probleme sal aanspreek.
As kliënte by ’n bank ’n uur en ’n half moet wag om by ’n teller geholpe te raak, is dit seker logies dat die bestuur die hoeveelheid tellers moet vermeerder!
Soortgelyk met die beskikbare konsultante. Ek dink nie dis billik dat mens twee uur moet wag om ’n konsultant te spreek nie!
Ook, sou ek dink dat mens ’n plan B in werking moet kan stel.
As jy dus sien dat daar ’n opeenho-ping van mense in een afdeling is, moet jy dus personeel hê om die probleem te help oplos!
Absa het ons die vorige Vrydag ’n uur en ’n half laat wag vir ’n teller en vandag twee ure vir ’n konsultant!
Ons het nie ’n keuse gehad om die teller te sien nie, want ons moes ’n strokie inhandig.
Elektroniese hantering was dus buite die kwessie!
Dis miskien tyd dat die bank se hoofkantoor hierdie tak opgradeer!
– Piet, Oudtshoorn
Absa reageer
Beste Piet, ons verwys na jou brief van 6 Maart.
Ons vra opreg verskoning vir jou ervaring vroeër vandeesmaand en wil jou bedank dat jy hierdie aangeleentheid onder ons aandag gebring het.
Absa waardeer en verwelkom terugvoer van kliënte oor hul ervarings, wat ons help om ons hulpbronne in takke volgens kliënte se diensbehoeftes en -volumes te moniteer en bestuur.
Ons het die personeelsterkte hersien en ’n diensbeampte vir die tak aange-stel wat as ’n teller en/of kliëntediensklerk kan werk na gelang van die volumes wat vereis word.
Kliënte kan ook Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 15:00 van ons dienspunt by die Klein Karoo Ko-op in Korporasiestraat gebruik maak, wat op die laaste twee en eerste twee werksdae van die maand om 08:30 open.
Dié dienspunt bied finansiële tellertransaksies en uitreiking van bankstate.
Ons streef voortdurend daarna om die beste diens aan ons kliënte te lewer en wil u weer eens bedank vir u terugvoer.
– Johnny Alcock, Streekhoof Kleinhandelsbankdienste: Oos- en Suid-Kaap