Dis saam, dis goed, dis real

Deur Tania Smit

Deur Tania Smit

Kom sit hier by my en vertel my van jou dag. van jou lekker jou sleg jou huil jou planne jou lag dan vertel ek jou van daai kerrie wat ek vandag geëet het, en vertel jy my van die boek wat jy nou lees, en vertel ek jou van my nuwe huisengel, en vertel jy my van die trip wat jy beplan.

En terwyl die son sak sal ek vir ons ’n kersie aansteek, en my voete opsit terwyl jy jou langbeen sit. en vir ons daai bottel wyn oopmaak wat ek verlede jaar by die sederberge gekoop het. ek sal ’n ysie bygooi, en jy sal sê mens drink nie wyn met ys nie. en ons sal stil raak en lekkerkry onder die prieel. terwyl die son sak.

En jy sal sê ons gaan nou vuur maak, want ons kan, en ek sal die laaste van die desemberlam se tjoppies uithaal. en terwyl ek in die kombuis is sal ek die feetjieliggies onder die wingerd aansit, en die ou straatlig agter in die tuin wat ’n weerkaatsing oor die swembad skyn, en dan die lig buite die waskamer wat ’n magic in die pruimboom in skyn.

En ek sal vir ons musiek opsit… Ella Fitzgerald of Leonard Cohen of Neil Diamond of Ray la Montague. of as ek nie wil besluit nie sommer net Shuffle. en as die kinders by die huis kom sal almal vuur toe kom en gelyk begin praat. oor die hokkieoefening, en daai moeilike toets en hoe dit met die mondeling gegaan het, en hulle nuwe koorlied, en hoeveel huiswerk hulle nog moet doen. en natuurlik hoe honger hulle is.

En soms sal sy gou inloer omdat sy met haar hond gaan stap het, of hy wat naby was en gou ’n sak tamaties wil kom afgee. en ek sal vir hulle stoele nadertrek. en nog ’n bottel wyn uithaal. en elkeen sal sy vertel begin leegmaak. en sy lag begin opwen, en sy hart begin volmaak.

En ek sal daar sit en soos ’n ryk vrou voel, en dink dis presies hoe elke dag vir my moet eindig. meer real as my werk, of my budget, of my kar se diens, of die raam van my nuwe bril, of my tenniselmboog wat nie wil reg nie.
want dis vanself.

En dis maklik.
en dis saam.
en dis goed.

en dis real.