Rommel by karvenster uit
Op Saterdag 19 Oktober omstreeks 11:00 stop ek in Van der Rietstraat by die verkeerslig. Voor my staan ’n wit Volkswagen met ’n CG-registrasienommer. Net voordat hy wegtrek om oor Baron van Reedestraat te ry, word ’n klomp rommel by ’n venster uitgegooi.
Gelukkig vir my beweeg hy in my rigting: met Van van Rietstraat tot by Condorstraat; dan links tot by Victoriastraat waarna hy regs draai. Ek moes in dié straat stilhou om ’n afspraak na te kom. Die motor het aanhou beweeg in die rigting van die gevangenis. Ek weet nie of dit die bestemming was nie.
Ek hoop die skuldige(s) sal hierdie brief op die een of ander wyse te lese kry en besef dié optrede pas nie by ’n opgevoede mens nie.
Ons dorp het, wat hierdie saak betref, ’n geweldige opvoedingstaak. Ek bid dat veral onderwysers hierdie taak as ’n prioriteit sal aanpak.
Hou Oudtshoorn skoon!
– Besorgde inwoner, Oudtshoorn
(Die registrasienommer van die voertuig is deur die leser aan Die Hoorn verskaf. Ntobeko Mangqwengqwe, woord- voerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het op navraag van Die Hoorn gesê dat so ’n rommelstrooier aangekla kan word indien die persoon wat dit gesien het, ’n beëdigde verkla-ring daaroor aan die munisipaliteit sal beskikbaar stel. Die persoon wat die oortre- ding gesien het, moet ook bereid wees om in die hof te getuig indien dit nodig sou wees.- Redakteur)