Briewe

Dankie vir hulp met die Coastal Clean Up!

Baie dankie aan elkeen wat saam met ons deelgeneem het aan hierdie jaar se International Coastal Clean Up (ICC) – ons het een gehad by die Grobbelaarsrivier in Oudtshoorn, en een in Dysselsdorp.

Ons was altesaam sowat 140 mense wat opgetel het – ons weet van 10 organisasies/besighede wat deelgeneem het en 45 sakke vullis is opgetel.

Die data wat ons kon versamel uit hierdie twee skoonmaakpogings word deurgestuur na Plastics SA wat Suid-Afrika se “clean-ups” koördineer. Ons data gaan dan deel word van Suid-Afrika se ICC-verslag, wat dan weer deel gaan uitmaak van die internasio­-nale ICC-verslag.

Ons het ook ’n lys gemaak van die items wat die meeste gemors veroorsaak het, asook die vreemdste goeters wat ons opgetel het.

Die meeste: 983 sigaretstompies, 471 kosverpakkings, 464 glasstukke, 463 metaalbotteldoppies en 380 plastiekbotteldoppies.

Die vreemdste: ’n rubber-babavoet, vleisbene, sigaarstompies, hare en vuur­werke.

Weer eens dankie vir julle deelname – volgende jaar maak ons weer so!

Neem intussen gerus ook deel aan ons maandelikse #trashtag, wat ten doel het om mense bewus te maak daarvan dat hulle eintlik nie behoort te mors nie…
– Trapsuutjies Oudtshoorn