Briewe

Dié tariewe is ’n skande

Jul berig in Die Hoorn van 12 September 2019 oor die Besigheidskamer wat hofaksies wil loods oor Oudtshoorn se tariewe is uiters verblydende nuus vir die inwoners.

Te lank is inwoners se insette en navrae oor die tariewe geminag deur Oudtshoorn se administrasie en politie­ke verteenwoordigers. Wat ’n skande!

Ek self het ’n geskiedenis van navrae met toepaslike wetgewing as bewyse – my navrae strek vanaf mnr Mmusi Maimane, premier Alan Winde, LUR Anton Bredell, Tertius Simmers, die vorige politieke hoof en die munisipale bestuurder.

Ek voel ek is met minagting behandel. So is die Afriforum-tak in Oudts-hoorn se navrae ook met min belang hanteer.

Om perspektief te gee oor hoe die onbillike tariewe vir selfverryking gebruik word deur die huidige administrasie en DA-raad net die vlge – dit is uiters noodsaaklik dat inwoners en besighede kennis neem hiervan en met die volgende verkiesing van die mense ontslae moet raak.

Die volgende salarissyfers is verkry uit die Ouditeur-Generaal se ouditering van Oudtshoorn se finansiële verslae vir 2017/2018.

Die Ouditeur-Generaal se datumstempel op die state is 2018/11/30.
• Munisipale Bestuurder – 2017: R1172099 en 2018: R1726901 – ’n 47,33%-toename in een jaar.

• Finansiële Hoof – 2017: R961604 en 2018: R1406763 – ’n 46,29%-toename in een jaar.

• Direkteur Korporatiewe Dienste – 2017: R809666 en 2018: R1390015 – ’n 71,47%-toename in een jaar.

• Direkteur Tegniese Dienste – 2017: R1060124 en 2018: R1307358 – ’n 23,32%-toename in een jaar.

• Direkteur Gemeenskapsdienste – 2017: R1043249 en 2018: R1329007 – ’n 27,39%-toename in een jaar.

• Direkteur Menslike Nedersettings – R1201306 gedurende 2018.

Dit is dan ook dié bestuur wat 14%- bonusse dié jaar ontvang. 14% beteken dat die lede se prestasievlakke bo 80% is. Bo 80% – ongelooflik!

Ek sou sê dat die Besigheidskamer die dorp ’n geweldige guns sal doen om die munisipale administrasie voor ’n hof te kry. Dan kan die manier waarop ’n herstelplan befonds is en die onwetlike manier wat riooltariewe gehef word, aan die lig kom. Dan kan dit dalk ook uitkom hoe senior DA-politici die inwoners van min belang ag.

Navorsing wys duidelik dat Oudts­hoorn se belastings en tariewe onbillik en nie volhoubaar is nie.
Oudtshoorniete moet self besluit of die dorp onder finansiële beleg is. Ry deur die strate – ons belastings is whisky-pryse, maar ons kry papsak-wyn daarvoor.
– André Barnard, Oudtshoorn
(Die brief is aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur vir moontlike reaksie. – Redakteur)