18 jaar al vrae oor riooltariewe
Na 18 jaar van gereelde korrespondensie aangaande die basis vir riooltarief-heffings in Oudtshoorn en herhaalde pogings deur my en selfs AfriForum om die aansienlike benadeling van sekere belastingbetalers te hersien, is daar steeds geen stappe deur die Oudtshoorn Munisipaliteit gedoen om ondersoek na die aangeleentheid in te stel nie.
Hoewel besprekings terugdateer na 2001, kan genotuleerde bewyse van ophaling in wykskomitee- en raadsvergaderings en korrespondensie aangebied word wat tot sover as 2006 terugdateer.
In 2008 het die hoop opgevlam en is ’n skrywe van die toe uitvoerende burgemeester ontvang waarin sy aandui dat die grief te laat ontvang is vir insluiting by die 2008/2009-begroting en by die volgende begroting ingesluit sal word.
Buiten gereelde griewe aan raadslede sowel as amptenare is daar sewe jaar later, in 2015, nog ’n dokument by die Oudtshoorn Munisipaliteit ingehandig vir verspreiding na alle betrokke partye (beskikbaar op aanvraag).
By nadere ondersoek ten tye van dié skrywe is gevind dat die Oudtshoorn Munisipaliteit inderdaad van ’n 50 jaar-oue verordening, gepubliseer in die destydse Kaapprovinsie Staatskoerant gebruik maak. In die verordening word riooltariewe per “pot” verhaal – soos na ’n toilet (emmerstelsel) in die oeroue dokument verwys word.
Die ordonansie is in 2002 gewysig en in die Wes-Kaapse Staatkoerant 5835 gepubliseer en deur die Oudtshoorn Munisipaliteit aanvaar. Dié verordeninge verbind die Oudtshoorn Munisipaliteit soos volg:
5. INKOMSTE
5.1 Fooie, Tariewe en Eiendomsbelasting:
5.1.1 Hoofde van departemente moet jaarliks alle fooie, dienstegelde en ander heffings hersien met die oog op die insluiting daarvan in die bedryfsbegro-ting in ooreenstemming met die raad se tariefbeleid en op so ’n wyse dat:
(a) gebruikers van munisipale dienste billik behandel word by die toepas-sing van tariewe;
(b) die bedrag wat individuele gebruikers vir dienste betaal, in die algemeen in verhouding is met hul gebruik van daardie diens;
Steeds is geen hersiening van die plaaslike tariefbeleid oorweeg nie, hoewel dit uit dié ordonansie duidelik was dat die munisipaliteit nie optree soos hulle, met die aanname van die verordening, verbind word nie.
Artikel 74 (2) van die Munisipale Stelselswet (32 van 2000) toon dat hier geen inagneming van die wetlike riglyn bestaan nie.
74. Tariff policy.
(1) A municipal council must adopt and implement a tariff policy on the levying of fees for municipal services provided by the municipality itself or by way of service delivery agreements, and which complies with the provisions of this Act and with any other applicable legislation.
(2) A tariff policy must reflect at least the following principles, namely that
(a) users of municipal services should be treated equitably in the application of tariffs;
(b) the amount individual users pay for services should generally be in proportion to their use of that service;
(c) poor households must have access to at least basic services through
(i) tariffs that cover only operating and maintenance costs;
(ii) special tariffs or life line tariffs for low levels of use or consumption of services or for basic levels of service.
Die munisipaliteit se tariewe word inderdaad steeds per toilet verhaal en nie vir gebruik nie, terwyl die aantal toilette niks te doen het met die volume riool wat in die stelsel hanteer word nie.
Riool word gegenereer deur die mense in ’n woning. Die aantal toilette en die vlak van gebruik het absoluut geen verband nie.
Die aangebode oplossing is tans om toilette te laat seël wat geen verskil in die hoeveelheid riool sal meebring nie, maar wel ’n massiewe finansiële impak op die munisipaiteit sal hê.
Huiseienaars bou huise met veelvuldige toiletfasiliteite vir gerief en nie noodwendig op ’n aanvraagbasis nie.
Dit is ’n gerief waarvoor jy dubbel belas word, aangesien die waarde van ’n huis met dubbelgeriewe ’n hoër munisipale waardasie het wat gekoppel word aan erfbelasting.
Die enigste alternatiewe antwoord wat ooit gewaag is, handel oor bekostigbaarheid, terwyl nêrens in die wetlike raamwerk melding gemaak word van bekostigbaarheid nie, slegs van billikheid. Deernisgevalle word apart aangespreek.
My gevolgtrekking is dat die munisipaliteit nie weet hoe om die verlede se onbillike heffings van riooltariewe aan te spreek nie, of blatant weier om, soos hulle wetlik verplig word, die heffings op ’n billike manier te hef. ’n Persepsie van finansiële gewin aan die kant van die munisipaliteit word deur hul weiering om die beleid te hersien, geskep.
Volgens statistiek in ’n antwoord op ’n soortgelyke grief deur Afriforum in 2018 gebruik die munisipaliteit die volgende syfers. Heg jy inkomstewaardes daaraan lyk die prentjie al hoe slegter.
• 72,36% belastingbetalers word belas vir een toilet; ’n geraamde inkomste van sowat R2,2 miljoen per maand.
• 27,64% belastingbetalers word belas vir meer as een toilet; ’n geraamde inkomste van sowat R2,3 miljoen per maand.
Dit wil voorkom dat die minderheid van 27,64% betalers met meer as een toilet verantwoordelik is vir 51% van die inkomste ingevolge rioolheffings en die meerderheid van 72,36% met een toilet vir 49% van die inkomste.
Mede-gegriefde belastingbetalers, in 2018/2019 het een toilet jou R128 gekos, twee toilette R256, drie toilette R384 en vier toilette R512, sonder inagneming of een of 12 mense dit gebruik.
Indien inwoners na 18 jaar geen antwoord of die moontlikheid van hersie-ning van die munisipaltiet ontvang het nie, en steeds ly onder onbillike en ongrondwetlike heffingstrukture, sou mens wonder wat gedoen moet word voordat aandag aan die belastingbetaler se griewe gegee sal word.
Binne die Tuinroete Distriksmunisipaliteit is Oudtshoorn die enigste van sewe munisipaliteite wat riooltariewe per toilet en nie per woning nie hef.
Indien ’n klasaksieregsgeding deur die benadeelde 27,64% belastingbetalers teen die munisipaliteit ingestel word, kan die munisipaliteit aanspreeklik gehou word vir verlies op grond van onbillike behandeling van sowat R26,6 miljoen jaarliks.
In ag geneem dat griewe reeds 18 jaar op dowe ore val, kan so ’n regsgeding ’n astronomiese bedrag van sowat R500 miljoen sonder koste beloop.
Kan ’n munisipaliteit in ’n finansiële herstelfase so ’n klasaksiegeding bekostig deur bloot langer versoeke om billike behandeling by toepassing van ri- ooltariewe te ignoreer?
Ek hoop om spoedig terugvoer van betrokke partye te ontvang.
– Tobie van Greunen, Oudtshoorn
(Die brief is vir reaksie aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur. Indien reaksie ontvang word, sal dit geplaas word. – Redakteur)