Briewe

Gee raad, asseblief

As jy vanaf Checkers se kant by die deurgang van­af Checkers-plein na Baron van Reedestraat tussen Du Plessis Motors en die Spur loop, is daar geen waarskuwing oor die trappe daar waar mense al baie geval het nie. Dit is ’n groot probleem.

Nou die dag toe ek my hare gaan sny het by ’n salon in die deurgang, kom ’n man van voor en slaan neer met hoed, bril en goue tande. Hy was ’n onderwyser. Ek sê toe aan hom hy moenie sleg voel nie, ek het al self daar geval toe ek nog vreemd was in Oudtshoorn. ’n Motorwag het my opgehelp, want ek is ook nie meer ’n kind nie.

Ek het ook ander klagtes. Hoekom is daar nie ’n posbus in die munisipaliteit se voorportaal waar mens briewe kan ingee met jou klagtes nie?

Ek het op 11 Oktober daar ’n brief afgelewer nadat ek al soveel keer gebel het om met die munisipale bestuurder te probeer praat, maar net nie by hom kon uitkom nie.

Ek het ook al my wyks­raadslid oor die saak in die brief gebel, maar sonder sukses. Hy het wel gesê hy sal kyk wat daar aangaan, maar ek het nog geen terugvoer gekry nie.

My klagte gaan eintlik oor ’n sypaadjie en ’n boom se wortels wat my grasperk verwoes.

Ek het op 20 Junie gebel toe ek my plante verplant het en op die wortels afgekom het. Ek het toe weer Septembermaand gebel.

Toe is vir my gesê ek moet wag, want my naam is op die lys. Die raadslid het ek op 15 September gebel.

Al wat ek wil weet, is hoe lank neem die munisipaliteit om deur ’n lys te werk? En waar (of hoeveelste) is ek op die lys?
Nou het ek geen uit­weg meer nie, ek kan nie elke keer as die wortels afgesteek moet word my plante verplant nie. Ek het nou net ’n groot grasperk en mag nie water lei nie.

Nog ’n klagte: Hoog op in St Johnstraat is ’n munisipale erf waar motors gewas word.

Ek weet nie of die erf deur iemand gehuur word nie, maar wie betaal die erfbelasting en die water? Mens kan seker nie met gryswater motors was nie? Daar staan ’n lorrie met tenks op, maar ek het nog nie gesien hulle tap daar water uit nie.
Daar staan ook ’n karavaan waarvan die wiele al pap is, maar tussen die karavaan en die buitemuur aan die straatkant, het rommel wat nie in sakke was nie op Dinsdag, 9 Oktober, rondgelê.

Die kosskerm tussen Checkers en die viswinkel was ook ’n groot fout. Op 9 Oktober het dit oor-kant die kosskerm, soos ’n stortingsterrein gelyk met rommel wat nie in sakke en dromme was nie. Dit is seker die vorige dag daar uitgesit?
– Ontevrede inwoner, Oudtshoorn

Doen moeite om diversiteit te vier

Ek het dr. David Piedt se brief oor die regte van Christen-leerders in Die Hoorn (18 Oktober) met gemengde gevoelens gelees. Kan dit wees dat een van ons dorp se inwoners wat juis ­­­­be­­kend is vir sy stryd om gelyke regte hier vir diskriminasie vra?

Die antwoord op ál sy vrae is natuurlik uiteinde­lik já, al is dit plek-plek ­ge­­­kwalifiseerd. Christen-leer­ders het die volste reg om hulle geloof te be­oe­fen en uit te leef, waar hulle ook al is. Die voorwaarde is altyd dat daardie regte nie beoefen mag word ten koste van ander leerders met ánder oortuigings nie. In essensie moet staatskole dus godsdienstig neutraal wees. Die onlangse hofuitspraak oor godsdiens in skole was tog baie duidelik hier­oor?

Suid-Afrika se mense se godsdiensvryheid word deur die Grondwet beskerm. Ongelukkig verstaan te veel dit beteken ’n reg om godsdiensoortuigings uit te leef (soms/gereeld militant) sonder enige respek vir die oortuigings van ánder mense. Staat­skole moenie kerke probeer wees nie en eerder ak­tief bly werk om leerlinge se gesindhede teenoor mense wat anders lyk en dink te verander.

Kom ons doen moeite om die diversiteit in ons land te vier en te bly oefen aan ons respek vir men­se van alle oortuigings. Gelowiges wat hulle Christenskap só prakties uitleef, sal baie meer respek en begrip afdwing as met ’n lys onverbiddelike eise oor “regte”.
– Vrydenker, Oudtshoorn