Dankie vir dié mooi huldeblyk
Baie dankie vir so ’n mooi huldeblyk oor Michael Schultz.
Alles is waar. Hy het alles in sy vermoë gedoen om Oudtshoorn die hoofstad van die Klein Karoo te maak.
Omdat hy lief was vir hierdie wonderlike dorp en omgewing waarin ons woon, het hy verkies om dit ook sy laaste rusplek te maak.
As hy vandag lewendig hierheen gekom het, sou hy miskien ’n hartaanval gekry het omdat dit nie meer die skoon, vooruitstrewende dorp is wat hy agtergelaat het nie.
Rus sag en in vrede en baie simpatie met die familie. Liefdegroete
– Mona Brittnell, Oudtshoorn
Wie is almal militêre veterane
Die groot vraag is altyd wie as militêre veterane geklassifiseer word.
• ’n Militêre veteraan is enige Suid-Afrikaner wat diens gedoen het in enige militêre organisasie, statutêre of nie-statutêre magte, wat betrokke was in al kante van die oorlog van 1960-1994, of
• wat gedien het in die Unie Verdedigingsmag voor 1961; of
• lid geword het van die nuwe Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag na 1994; of
• sy/haar militêre opleiding voltooi het en nie langer militêre diens verrig nie en nie oneerbaar ontslaan is uit enige militêre organisasie nie.
Daar is baie mispersepsies oor die registrasie van militêre veterane op die databasis van die Departement van Mi-litêre Veterane.
Kom ek val sommer met die deur in die huis en ek antwoord gou ’n paar van die mispersepsies wat uitgekom het in gesprekke.
Die vereistes om te kwalifiseer vir militêre veterane-voordele is die volgende:
’n Militêre veteraan kan kwalifiseer vir een of meer voordele soos voorsien in die Wet (Wet 18 van 2011) en die regulasies vervat in die wet
• indien die militêre veteraan voldoen aan die kriteria soos voorgeskryf in die regulasies van die wet vir elke spesifikasie; of
• indien die militêre veteraan gelys (geregistreer) is op die Nasionale Militêre Veteranedatabasis. (Die doel van die opgawelys/registrasie is nie om te kyk wie is opgelei en waar hulle woon nie).
Dit is nie verpligtend om te regi-streer as ’n militêre veteraan in Suid-Afrika nie, maar as jy nie geregistreer is nie, kan jy nie in aanmerking kom vir voordele nie.
Diskwalifikasie vir militêre veterane-voordele.
Diskwalifikasie geskied wanneer ’n militêre veteraan skuldig bevind is aan verkragting, moord, diefstal, roof of hoogveraad gepleeg na 27 April 1994 en gevonnis is tot tronkstraf vir ’n periode langer as vyf jaar sonder die opsie van ’n boete. Hierdie punt moet nie geïnterpreteer word as die diskwalifikasie van ’n afhanklike van ’n gediskwalifiseerde militêre veteraan in terme van die subregulasies vir die ontvangs van voordele soos uitgesit in die Wet en sy regulasies nie.
Pensioen/uitbetalings
Daar is geen pensioen of uitbetalings vir militêre veterane nie.
Hoe doen ’n mens aansoek vir die Militêre Veterane-voordele?
Die militêre veteraan moet eers geregistreer word op die Departement van Militêre Veterane se databasis, en daarna kan hy/sy aansoek doen vir die voordele nadat hy/sy geregistreer is.
Wat het geword van die hele proses toe baie mense so ’n paar jaar gelede in lang toue gestaan het om as militêre veterane te registreer?
Volg dit op deur die volgende te doen: Bel 080 232 3244 of e-pos database@dmv.gov.za
Die voorstel is ook dat jy die hele registrasieproses weer van voor af doen.
• Besoek: www.dmv.gov.za vir al die detail ten opsigte van die registrasie as militêre veteraan.
Jy word ook genooi om by die SA Weermagvereniging aan te sluit en ons help jou met die registrasie as militêre veteraan.
Kontak ons by sel 060 603 2930 of e-pos na sawv@milvets.co.za of admin @milvets.co.za
– Jaco Steenberg, Oudtshoorn