Teksmark uitgebrei om Engels en Xhosa in te sluit

MET ’n bykomende borgskap van R200 000 word Kunste Onbeperk se Teksmark vir 2019 uitgebrei om benewens Afrikaans en

Engels ook Xhosa-tekste in te sluit. Dié aankondiging is begin September met die afsluiting van die derde Teksmark in die Baxter Teater gemaak.

Lara Foot, direkteur en uitvoerende hoof van die Baxter Teatersentrum, het met die bekendmaking van die Baxter Teater se borgskap van R100 000 die belang van die ontwikkeling van nuwe stemme beklemtoon.

Met die geleenthede wat die Teksmark vir skrywers skep en die nuwe produksies wat uit die vorige twee jaar se Teksmarkte gekom het, het Foot begin speel met die gedagte om dié formaat uit te brei deur meer Engelse en ook Xhosa-tekste in te sluit.

“Daar word niks weggeneem van Afrikaans nie, daar word bygevoeg. Onder die sambreel van die Baxter is alle tale, kulture en gelowe welkom. Op dié manier bou ons voort op die wonderlike inisiatief van die Teksmark.”

Foot se uitdaging aan ander borge om hul borg­skap te ewenaar, het nie op dowe ore geval nie. Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasio­na­le Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), het R100 000 bewillig. “Afrikaans as ’n inheemse taal staan naas die ander inheemse tale. Om die aanbod uit te brei, skep nog meer geleenthede.”

Vir Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk wat met die inisiatief van die Teksmark begin het, was dit nog altyd die droom dat die Teksmark uitgebrei kan word om Suid-Afrikaanse tekste te ontwikkel. “Ek is oor­wel­­dig deur die hoeveelheid mense wat dit bywoon, die gesprekke en besprekings. Dit is ’n vei­lige ruimte waarbinne mense vrae kan vra en te­rug­voer gee oor die uittreksels wat as leesteater aangebied word. Almal word deel van die proses om teater te skep.”

Twee tekste wat opgeraap is om opgevoer te word, is Wildeals van Wessel Pretorius en Kôl­le­min die blouduif van Amee Lekas. Lekas het met die eerste Teksmark haar debuut gemaak met Die dans van die watermeid, wat vir ’n Fleur du Cap vir beste nuwe Suid-Afrikaanse teks benoem is.

Theart sê dit is duidelik dat Kunste Onbeperk se Teksmark sy voete gevind het. “Wat my veral ver­bly, is die jong stemme wat na vore tree. Hulle pak moeilike kwessies en vra vrae wat mens uitdaag.”