Die tuinslakkie wat in ’n kraan op Oudtshoorn beland het. Die foto is nie op skaal nie. Die slakkie is kleiner. Foto Facebook
Deur Angelique Erasmus
’N INSKRYWING Sondag op Facebook oor ’n tuinslakkie uit ’n kraan het talle Oudtshoorniete die week aan die gons gehad.
Volgens alle aanduidings het die slakkie, wat 6 mm breed en 40 mm lank is, waarskynlik van buite die huis ingekruip op soek na water en so in die kraan beland.
Die vet was egter in die vuur toe Amanda la Grange Kapp Sondag op die Facebook-bladsy Oudtshoorniete staan saam ’n foto en ’n inskrywing geplaas het van die slak wat volgens haar uit ’n kraan in haar huis gekom het. Dié pos is meer as honderd keer gedeel met 42 kommentare daarop.
Diegene wat egter hoop op ’n sappige storie dat die slak uit Oudtshoorn se waternetwerk kom, sal teleurgesteld wees. Volgens ’n slakkenner, wat gevra het om anoniem te bly, kan dié soort slak nie lank in water oorleef nie, slegs ’n paar minute in water bo 30 grade en ’n paar uur in water onder 20 grade. Chemikalieë soos chloor sal die slak nog vinniger laat vrek.
Johan Uys, bestuurder grootmaatwater by die munisipaliteit, het Dinsdag die betrokke huis besoek saam met Andrè Lombaard en sy span wat loodgieterwerk vir die munisipaliteit doen. Hulle het die watermeter oopgemaak en gevind dat die plastieksiffie nog heel was en ook te fyn is vir die slak om daardeur te kon kom.
Volgens inligting uit die bron The introduced terrestrial Mollusca of South Africa deur DG Herbert wat deur die slakkenner aan
Die Hoorn verstrek is, is die slak ’n gestreepte tuinslak (Lehmannia Nyctelia) of driegebande tuinslak (Lehmannia Valentiana) en kom dit algemeen in Suid-Afrika voor. “Ek sal dit nie as eetbaar bestempel nie, maar dit is ook nie giftig nie,” het hy aan Die Hoorn geskryf.