Briewe

Vrae oor water wat wegloop

Ek was een oggend laas week op pad om my seuntjie by Wesbank te gaan aflaai, toe ek ’n brandkraan in Parkweg ’n hewige straal water sien uitspuit het. Ek het onmiddellik die munispaliteit geskakel om dit te rapporteer.

Daar is aan my genoem dat daar ’n pyp naby aan die brandkraan gebars het en hulle eers die pyp moet “flush” voor­dat herstelwerk kan begin. My vraag aan die munisipaliteit is: Hoekom kon julle nie die nabygeleë weermag geskakel het om die water op te neem nie, of ’n watervragmotor en die water op bome en struike uitgelaat het nie? Daardie kosbare liters water (en dit was baie) is op droë grond met onkruid gemors. As daar elke week berigte in die plaaslike koerante geplaas word van hoe die inwoners water moet spaar, die belaglike hoë tariewe wat betaal moet word en die dreigemente van boetes – hoekom mors julle dan water? Wie gee julle die reg?
– Philip Goets, Oudtshoorn

(Die brief is aan die munisipaliteit gestuur vir reaksie wat geplaas sal word wanneer ons dit ontvang. Volgens Die Hoorn se inligting beskik die munisipaliteit nie oor leë “water­vragmo­tors” nie en moet die brandweer se voertuie vol water gehou word. – Redakteur)