Joanika Lombard (naasregs), wenner van Ek is Oudtshoorn se logo-kompetisie, verlede Vrydag saam met van links Colan Sylvester, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Corleen Barnard van Oudtshoorn Toerisme en Jaco Vorster, voorsitter van die Ek is Oudtshoorn-werkgroep). Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
DIE wenner van ’n kompetisie om ’n logo te vind vir die Ek is Oudtshoorn-inisiatief op die dorp, Joanika Leonard, sê sy was amper te laat met haar inskrywing.
Sy het dit die laaste dag wat sy kon inskryf eers voltooi en dit net voor die spertyd ingehandig.
Joanika, bestuurder by Nostalgie Restaurant op die dorp, sê sy identifiseer haar met die Ek is Oudtshoorn-slagspreuk en het verlede jaar teruggetrek Oudtshoorn toe omdat sy so lief is vir die dorp. Sy en haar gesin het tydens haar skooldae op die dorp gewoon, maar tydens haar graad 10-jaar Limpopo toe verhuis.
Ek is Oudtshoorn is ’n werkgroep van die Oudtshoorn Besigheidskamer met die doelwit om Oudtshoorn te bevorder.
Volgens Jaco Vorster, voorsitter van die werkgroep, het die hele gemeenskap van die dorp betrokke geraak en aan die kompetisie deelgeneem. Hy sê inskrywings is uit alle oorde ontvang, ook van skole.
’n Onafhanklike paneel het uiteindelik op die wenner besluit. “Hulle het gekyk na wat is werkbaar vir almal en op alle gebiede, soos toerisme, die landbou, vir besighede en ook internasionaal,” sê Vorster.
Die logo is egter nog ’n groot geheim, met Joanika se ont-werpvoorstel wat tans deur twee ontwerpers verwerk word in die finale logo.
Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, het Vrydag die bekendmaking van die wenner se naam bygewoon.
• Joanika wen verskeie pryse wat uniek is aan Oudtshoorn soos ’n besoek aan die Kango Grotte en moet ook betrokke raak by gemeenskapsprojekte en op sosiale media haar ervarings deel.
Een van die gemeenskapsprojekte wat in die vooruitsig gestel word, is ’n muurskildery langs Voortrekerweg. Ander inskrywers vir die kompetisie sal ook hierby betrek word.