Aarde teen 2040 nie meer veilig

Deur Liesel le Roux

Die toekoms van planeet aarde lyk volgens ’n verslag van die Ver­e­­nigde Nasies (VN) wat pas gepubliseer is, glad nie roos­kleu­rig nie.
Droogtes, ondraaglike hitte wat dele van die aarde onbewoonbaar sal maak en landbou totaal sal vernietig, is wat voorlê vir die res van die eeu indien die mensdom nie sy koolstof­voetspoor drasties verminder nie.

Volgens die verslag het temperature wêreldwyd reeds met 1°C as gevolg van menslike aktiwiteite ge­styg. Wetenskaplikes sê ’n verdere temperatuurstyging van 1,5°C sal die aarde oor ’n drumpel neem waar klimaatsverandering se vernietigendste uitwerking ’n realiteit gaan word.

In klimaatsterme maak net een graad ’n ingrypende verskil.

En dié drumpel van geen omdraai nie, is net 12 jaar ver – so vroeg soos 2030 – indien die bewoners van die aarde nie dramatiese veranderinge gaan maak nie.

Doen ons dit nie, sal Suid-Afrikaners – en in ’n groot mate ook die Klein Karoo die uitwerking van aardverwarming eerstehands ervaar. Die westekant van ons land sal droër word en die oostekant natter.

Die fynbos-ekostelsel en die vetplant-Karoo-ekostelsel sal verdwyn soos die Kalahari-woestyn groei. Die Stellenbosch-wynstreek sal te warm raak vir druiweproduksie.

“Teen 2040 sal daar nie meer ’n veilige plek wees om te woon nie. Teen die einde van die eeu sal die lewe vir almal verskriklik wees,” skryf Sipho Kings, omgewingsverslaggewer van die Mail & Guardian.

Ons moet onthou: Teen die einde van die eeu sal die kinders van van­dag steeds leef.

Die 91 wetenskaplikes vanoor die wêreld (ook uit Suid-Afrika) sê in die verslag dat die wêreld teen ’n tempo soos nooit tevore nie, sal moet ver­ander om die 2030-doelwit te haal. Kweek­huisgasse wat kom van voertuie, kragstasies, brande, yskaste, lug­versorgers, ontbossing ens moet met 45% in 12 jaar en 100% teen 2050 gesny word.

Die groot vraag wat elke inwoner en regering van die aarde hul moet vra, is wat ons kan doen om ons planeet van uitwissing deur klimaats­verandering te red. En dan moet ons dit doen.

• Lees gerus Sipho Kings se berig by https://mg.co.za/article/2018-10-12-00-earth-faces-climactic-moment