Vesel-internet en hoe dit werk

’n Optiese veselkabel

OP Oudtshoorn word daar die laaste tyd baie gepraat oor vesel (fibre), met dié dat talle inwo­ners besoeke gekry het van ’n besigheid wat beoog om optiese vesel luglangs – via pale en kabels – aan huishoudings en besighede op die dorp te verskaf.

Vesel is – soos ADSL en LTE – maniere om in­ter­nettoegang te verkry. Op Oudtshoorn het talle skole en staatsinstellings reeds die afgelope twee jaar vesel-internet ontvang nadat ondergrondse veselkabel oral in die dorp gelê is – ons almal het gesien hoedat sypaadjies in die dorp daarvoor op­gekap en weer toegemaak is.Vesel kan dus ondergronds en luglangs gelê word, met laasgenoemde wat goedkoper is vir die verbruiker.

Baie Oudtshoorniete is tans opgewonde dat vesel-internet nou ook moontlik aan huishoudings beskikbaar gaan wees omdat dit beter aflaai- en oplaaispoed (download and upload) bied – en dus vir ’n vinniger verbinding sorg. Maar daar is ook inwoners met vrae en vrese oor wat vesel is.

Wat is vesel?
Veselkabel is glas- of plastiekvesel wat lig gelei. Dié vesel waardeur die lig beweeg, is dunner as ’n haar. Soos tegnologie verbeter het, het vesel verbeter en word optiese vesel nou gebruik, wat vinnig en duursaam is.

Data word via ligstrale in die veselkabel gestuur.

Hou vesel nadele vir jou in?
Nie waarvan ek bewus is nie. Lig hou geen nadeel in vir ’n mens nie. Daar is geen seine of radio-aktiwiteit soos met wifi en selfoontorings nie, en geen skottels of torings wat in ’n erf of op ’n dak geïnstalleer word nie.

Vesel vs ADSL
ADSL en LTE is ander maniere waarop ’n mens byvoorbeeld met die internet kan verbind of via WhatsApp kan kommunikeer. ADSL (oor koperdrade) kan ’n spoed van tot en met 40 Mbps bied, maar hoe verder jy van die sentrale af is, hoe minder is die spoed wat jy kan kry. ’n Voorbeeld: ’n huis in die omgewing van Adderley- en St Saviourstraat sal maklik 40 Mbps haal, want dit is omtrent ’n kilometer weg van die sentrale, maar ’n huis aan die eindpunt van Jan van Riebeeckstraat sal net 8 Mbps haal. Vesel sal dieselfde spoed orals bied. Koperdrade is ook geneig tot steurnisse wat die spoed beïnvloed.

Vesel vs LTE (4G/5G)
LTE is mobiel (selfoontegnologie), waar vesel beperk is tot jou huis of kantoor. Hoewel selfoonnetwerke se spoed aansienlik verbeter het, is vesel dikwels meer koste-effektief. Selfoonnetwerke kan tot 100 Mbps bereik, en vesel 1 000 Mbps. Indien jy min data in ’n maand gebruik, is die selfoonopsie goedkoper, maar as jy datahonger en/of ’n spoedvraat is, is vesel by verre goedkoper.

Doen jou huiswerk oor koste en maak seker wat ingesluit is en waarvoor jy ekstra moet betaal. Maak ook seker van die lengte van ’n kontrak en of die diens dalk ook van maand tot maand beskikbaar is.

Mag vesel onder/oor jou erf gelê word?
’n Besigheid wat tans ’n veselnetwerk op Oudts­hoorn wil vestig, sê hulle het toestemming nodig van die huiseienaar om ’n paal in die erf te plant – agter in die erf in die geregistreerde telekommunikasie-servituut.

Op elke eiendom is daar ’n servituut wat telekommunikasiemaatskappye toelaat om telekommunikasie-infrastruktuur oor jou eiendom te lê (Afdeling 22 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie – Wet 26 van 2005).

Indien jy weier dat die besigheid ’n paal in jou erf kan plant, maar jou buurman laat dit wel toe, kan jy nie verhoed dat die kabel oor jou erf loop/hang nie. Dit is baie duidelik in vorige hofuitsprake bekragtig.

Die pale wat die besigheid in erwe wil plant, is volgens hulle kleiner en minder opvallend as telefoonpale. Inwoners wat die pale toelaat, kry ook sekere voordele indien hulle van die aanbod gebruik maak.

My beskeie mening
Ek dink dit is baie slim om veselkabel vir internettoegang luglangs te span eerder as om ons paaie of sypaadjies (wat reeds in ’n toestand is) verder op te kap. Deur ’n kabel tussen huise te span (soos Telkom al die jare met telefoondrade gedoen het), kan meer huise bedien word, wat die koste van die installasie verminder en ons paaie en sypaadjies spaar.

Op die ou einde gaan die verbruiker geld spaar én beter internettoegang hê. (Deur Heinrich Bosman)