CKI: Covid-19 knou leer- en verebedryf

DIE negatiewe impak van die Covid-19-pandemie op Cape Karoo International (CKI) se internasionale leer- en veremarkte is beduidend, het Francois de Wet, besturende direkteur, verlede Donderdag (3 Desember) by die eerste jaarvergadering van dié volstruisbesigheid gesê.

CKI het die afgelope boekjaar tot stand gekom met die samesmelting van Klein Karoo International en Mosstrich.

In sy bedryfsoorsig het De Wet gesê CKI se drie grootste uitdagings die afgelope boekjaar was die Covid-19-pandemie, wat onsekerheid veroorsaak het en die wêreldvraag na volstruisvelle en -vere laat daal het, die droogte, wat voerkoste verhoog het en produsente onder druk geplaas het, en oorproduksie, wat CKI se voorraad van velle en vere laat toeneem het.

Hy het egter die versekering gegee dat CKI se bemarkers alles in die stryd werp om volstruisprodukte te verkoop en om sover moontlik pryse te ondersteun.

Met verwysing na die toename in slagtings die afgelope boekjaar teenoor die vorige jaar, het De Wet gesê die slagtoekennings is ’n bitter pil vir produsente, maar dit is die enigste uitweg om vraag en aanbod te balanseer om drastiese afwaartse pryse van roumateriaal te verhinder.

Te veel slagtings veroorsaak ’n toename in voorraad. Daarom het CKI die afgelope twee jaar reeds die stelsel van slagtoekennings ingestel waarmee gepoog word om vraag en aanbod te belyn.

CKI se strategie vir die toekoms is die balansering van vraag en aanbod, om produsenterealisasie te verbeter, om CKI se kontantvloei te beskerm en om die volstruisproduktemark-te te groei.

In sy oorsig het De Wet gesê CKI het ’n omset van R755miljoen in sy eerste boekjaar behaal. “Die leerverkope het R330miljoen beloop, vleisverkope R268mil-joen en vereverkope R151miljoen. Die balans word opgemaak deur ander inkomste.”

Volgens De Wet is ’n kontantwins van R24miljoen behaal, maar die kontantbehoefte het met R141miljoen oor dié tydperk toegeneem, die reg-streekse gevolg van die toename in voorraad, hoofsaaklik weens die negatiewe impak van Co­vid-19-pandemie op internasionale vraag na volstruisleer en -vere.

De Wet het genoem volstruisleer het sy prys oor die afgelope paar jaar, die Covid-19-tydperk ingesluit, baie beter behou as bees-, merinoskaap- en krokodilvelle.

Die verkope van volstruisleer het egter byna halfveer sedert Februarie vanjaar toe meer as 14000 velle verkoop is.

Van Maart tot Julie vanjaar is ’n gemiddeld van sowat 6500 velle per maand verkoop terwyl die geprojekteerde getal velle vir dié tyd­perk meer as 12000 was. Gevolglik het die volstruisleervoorraad skerp toegeneem.

Volgens De Wet is vleisverkope minder geraak deur die Covid-19-pandemie.

Die gemiddelde volstruis­vleisverkope aan plaaslike supermarkte het die afgelope jaar gestyg met rekordverkope in Oktober vanjaar.

Hoewel CKI se vleisvoorraad in die eerste drie maande van vanjaar die hoogste nog was, het dit sedertdien skerp gedaal.

CKI se volstruisvleistrategie is om die verkope van gaarvleis in die Europese Unie te groei en in ander lande te bemark.

Binnelands sal gefokus word op die kleinhandel (retail) en kliëntgedrewe produkte. Die vleisgedeelte van “pet treats” sal ook gegroei word met maksimale waardetoevoeging.

Ten opsigte van vereverkope het hy gesê die mark het sedert Februarie weens Covid-19 van gemiddelde maandelikse verkope van meer as R16miljoen tot minder as R12 miljoen per maand geval.

Dit kan regstreeks daaraan toegeskryf word dat groot internasionale feeste soos die Rio de Janeiro-karnaval, waar baie vere benodig word, afgeskaf moes word weens Covid-19. Die verevoorraad het gevolglik vanjaar dus ook skerp gestyg.

Die strategie is om stoffers se produksie met 50% te verhoog, om voorraad teen markverwante pryse aan te koop en om ’n sterk poging aan te wens om grootmaatverkope (bulk) weer aan die gang te kry, het De Wet gesê.

Ter afsluiting het De Wet ge­waarsku dat die jaar wat voorlê waarskynlik nie makliker gaan wees as die afgelope jaar nie. CKI se personeel en produsente sal veerkragtigheid (resilience) en uithouvermoë benodig en vernuwend moet dink. (Deur Schalk le Roux)