Verfraai jou tuin, verfris jou brein

Daleen Schoeman gesels Sondag oor Nasionale Tuindag by Die Boomhuis op Oudts­hoorn. Foto: Stefan Skapie Goosen

NASIONALE Tuindag Sondag (11 Oktober) het Suid-Afrikaners aangemoedig om hul tuine te verfraai, en op Oudtshoorn het inwoners dieselfde boodskap ontvang.

Daleen Schoeman van Die Boom­huis het die dag vir ’n groep belangstellende Oudtshoorniete gewys hoe maklik dit eintlik is om in jou tuin te kan plant.

Van die suurstof wat die wortels benodig tot die ligsiklus, van saadjies tot klone tot metgeselplante is bespreek. Elkeen het ook ’n eie blommekroon gekry, en kon dit self versier soos hulle wou.

Nasionale Tuindag is in 2016 op die been gebring om Suid-Afrikaners aan te moedig om hul tuine, en alles wat groen is, te vier.

Daleen sê Suid-Afrikaners het genoeg sonlig, water en ruimte om hul eie tuine aan te plant.

“Hoekom doen ons nie meer moei­te om drie tamatieplantjies nat te hou met gryswater nie, of om aan die begin van ’n warm somer ’n rank­boon­prieël te begin wat dan sommer ’n paar maaltye ook kan bylas nie? Ek dink ons het vergeet, dat met min moeite en bietjie liefde ons wel ’n verskil kan maak aan almal se voedselsekuriteit,” maan sy.

Al wat dit die mensdom sal kos, is volgens haar ’n “bietjie rondkrap in die grond, ’n paar bakke skottelgoedwater, en ’n saadjie of twee. Dit sal nie net ons beursies bietjie voller hou nie, maar ons siele ook voer!”

Daleen sê die aanplant van jou eie tuin, hetsy dit groente of blomme is, kan menigde voordele inhou.

“In soveel tuinjoernale word gesê dat jou eie tuin ’n impak het op jou emosionele welstand, dit bou immuunstelsels, maak ons fisiek ster­­ker en meer beweegbaar, help selfs met die geheue en verlaag stres­vlakke.

“In verslawingsrehabilitasie help dit met die verligting van angs. Wat jy saai wil jy sekerlik maai, so dit maak seker dat almal in die huis op­gewonde is oor die volgende spi­na­siepastei, omdat almal gehelp het om dit te laat groei.” (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Verfraai jou tuin, verfris jou brein"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*