Oudtshoorn bekend as ‘Klein Jerusalem’ vir ’n rede

Sononder 18 September tot sononder 20 September Die Joodse Sinagoge op Oudts­hoorn is ’n bekende gesig in Baron van Ree­destraat. Foto: Stefan Skapie Goosen

OUDTSHOORN staan reeds sedert die 19de eeu ook bekend as Klein Jerusalem, met sowat 600 Joodse gesinne wat in ’n stadium op die dorp gewoon het.

Hoewel daar vandag net ’n paar Joodse families op die dorp is, speel dié gemeenskap steeds ’n baie belangrike rol op Oudtshoorn, onder meer in die sakesektor.

En dit is hierdie gemeenskap wat vanjaar vanaf Vrydagaand 18 September tot Sondagaand 20 September hul Nuwejaar vier, bekend as Rosh Hashanah.

Tussen 500 en 600 Joodse gesinne het hulle tydens die bloeitydperk van die volstruisbedryf op Oudtshoorn gevestig.

Die eerste groep families het in die middel van die 19de eeu hier aangekom.

Daar was volgens Jon Seligman, direkteur van die uitgrawings-, opnames- en navorsingsafdeling by die Israeliese Oudhede-beheerliggaam, twee groepe Joodse immigrante tussen die middel van die 19de eeu en die eerste dekade van die 20ste eeu na Oudtshoorn gekom.

Die eerste groep was deel van die Britse immigrasieskema van 1858 tot 1861, waartydens groot groepe mense van Duitse oorsprong hulle in die Kaap gevestig het, saam met handelaars van die Britse Eilande.

Die tweede groep, skryf Seligman op sy web­blad seligman.org.il, het bestaan ​​uit Jode uit Letland en Litaue wat ontsnap het van die mobilisering van baie jong Jode na die Russiese leër tussen 1881 en 1910, en die antisemitisme wat hul vermoë om produktiewe lewens te lei, beperk het.

Die meeste het na Brittanje gevlug, waarvandaan hulle weer na die VSA of na Britse kolonies, soos Suid-Afrika, getrek het.

“Sommige van hulle het, toe hulle Kaapstad bereik het, gehoor van die rykdom wat hulle in Oudtshoorn kon verwerf, en het daarheen verhuis om ondernemings wat met volstruisvere gehandel het, te begin,” skryf Seligman.

Die Joodse gemeenskap in Oudtshoorn het so groot geword, vertel Seligman, dat daar hotelle, restaurante en winkels was wat aan spesifieke Joodse gebruike en tradisies begin voldoen het. Gedurende die Sabbat, religieuse vakansiedae en die Pasga (Shabbat, the High Holidays and Passover), het die dorp die Joodse gebruike nagekom deur handel vir hierdie tydperk te staak.

Die roete tussen die naburige dorpie Calitzdorp en Oudtshoorn is selfs op die Sabbat vir verkeer gesluit.

Die Joodse gemeenskap het onder meer twee sinagoges gebou, ’n begraafplaas opgerig en talle besighede op Oudts­hoorn gevestig. Die CP Nel Museum huisves vandag nog ’n replika van die binnekant van die St Johnstraat-sinagoge wat nie meer bestaan nie, en is oop vir besigtiging deur die publiek en toe­riste. (Deur Stefan Skapie Goosen)