Wees ingelig oor geweld teen vroue en kinders en internet-transaksies

VROUEMAAND vanjaar was vir die Ladismith Polisie een van uitrei­king na die hele gemeenskap, van bewusmaking van die probleem van geweld teen vroue en kinders, asook een van vermaak en bederfies vir kinders.

Lt. kol. Pauline Kriel, stasie­be­vel­voerder van die Ladismith Polisie, het die laaste naweek van Augustus saam met haar kollegas die strate ingevaar om groter bewusmaking oor die mishandeling van vroue en kinders te skep – gewapen met ballonne en pamflette.

Die ballonne het boodskappe bevat oor hoe om jouself en jou eiendom te beveilig asook hoe om verdagte persone en voertuie te rapporteer.

Sy sê die dorp ervaar ’n toename in huisbrake en diefstal uit motor­voer­tuie.

“Dit is bekend dat dwelms dikwels ’n groot rol speel in hierdie tipe misdaad,” sê sy.

Sy waarsku ook die publiek om uiters versigtig te wees met internettransaksies, veral as dit nie met be­kende en gevestigde handelaars is nie.

Volgens haar is mense in Ladismith tydens Mei en Junie uit ’n allemintige R81 500 bedrieg deur internet-transaksies!

Booswigte vra eers ’n deposito en daarna die res van die geld.

Sodra die deposito inbetaal is, verdwyn alle verwysings.

Kriel raai die publiek aan om veral nie voertuie op hierdie wyse te koop nie.

Sy sê voorts klagtes oor polisie­be­amptes wat nie sake van die gemeenskap wil hanteer nie, moet deur die stasie­bevelvoerder, hanteer en tug­stappe toegepas word.

Die publiek kan egter ook polisielede wat nie sake wil open nie, by 080 033 3177 rapporteer. (Deur Deon Meyer)