Ten spyte van droogte is twee wyne van hier onder land se bestes

TEN spyte van die uitmergelende droogte die afgelope jare in die Klein Karoo en die verwoestende uitwerking daarvan op landbou in die streek, is twee wyne uit Calitzdorp onlangs deur die Britse wynskrywer en -kritikus Tim Atkin onder Suid-Afrika se topwyne geplaas.

Atkin het 1 381 Suid-Afrikaanse wyne beoordeel.

Dié twee wyne is De Krans se 2018 Cape Vintage Reserve wat deur hom aangewys is as die Gefortifiseerde Wyn van die Jaar, en Boplaas se 2019 Touriga Nacional Family Reserve wat deur hom aangewys is as die Beste Waarde Rooiwyn van die Jaar.

Atkin, medevoorsitter van die London-ge­ba­seerde Inter­national Wine Challenge, die wê­reld se grootste blin­de proe-wynkompetisie, sê Suid-Afrika maak tans die beste wy­ne in die geskiedenis.

Groot uitdagings wag op land se wynbedryf
Behalwe vir die uit­dagings van die droogte die afgelope jare, het die inperkingsregulasies vanjaar as gevolg van die Covid-19-pandemie ook die wyn­bedryf seergemaak.

Met regulasies wat toerisme tydens die inperking beperk het, het Klein Karoo-wynplase soos Karusa, De Krans en Boplaas ook nie vanjaar die gewone besoeke deur toe­riste – vanuit die streek, elders in die land en van dwarsoor die wêreld – gehad nie.

Die verbod op die ver­koop van alkohol en die uitvoerverbod op wyn vroeër vanjaar het ook die bedryf benadeel.

Rico Basson, besturende direkteur van die wynbedryf-organisasie Vinpro, sê die tydelike uitvoerverbod en uitgebreide beperkings op verkope het groot skade aan die bedryf in geheel aangerig.

Volgens hom lê “ ’n lang herstelpad” nou vir die wynbedryf voor.

Vinpro beraam dat die bedryf in Suid-Afrika meer as R7 miljard verloor het sedert die instelling van verkoopsbeper­kings in Maart 2020.

Na die aanvanklike nege-week-verbod op plaaslike verkope, vyf-week-verbod op uitvoer en die tweede binnelandse verkoopsverbod, skat Vinpro dat meer as 80 wynkelders en 350 wyndruifprodusente gedurende die volgende 18 maande dalk kan sluit, met ’n potensiële verlies van meer as 21 000 werksgeleent­hede wat daaruit kan spruit. (Deur Liesel le Roux)