MET Covid-19-regulasies wat talle sportbyeen-komste in die wiele ry, was daar vandeesweek goeie nuus vir atlete! Die gewilde jaarlikse Eden Straatmylreeks waaraan atlete van wyd en syd deelneem, gaan wel in Desember plaasvind.
Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF), sê die organiseerders van die straatmylreeks het verlede week virtueel met van die ankerborge vergader om die toekoms van die reeks te bespreek.
“Almal is positief dat dit moet plaasvind ondanks die uitdagings wat daar mag wees. Die groot dryfveer is om vir Suid-Afrikaanse atlete die kans te gee om te kan deelneem. Vir atlete wat ’n oog op die Olimpiese Spele volgende jaar in Tokio het, kan dit ook as voorbereiding dien,” het hy gesê.
Hans van der Veen, voorsitter van die KKAF en die straatmylreëlingskomitee, het aangekondig die reeks gaan plaasvind.
Atletiek SWD (ASWD) het ook reeds die reeks goedgekeur. Nou word nog net vir goedkeuring van Atletiek SA gewag.
Volgens Van der Walt sal die Covid-19-maat-reëls streng toegepas word om die risiko vir atlete, beamptes en toeskouers te beperk.
Die datums vir die drie byeenkomste waaruit die reeks bestaan, is:
• Saterdag, 19 Desember – Klein Karoo Straatmyl in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn;
• Maandag, 21 Desember – NWU/VU-myl en baanitems (80, 100 en 400 m) in die De Jager Sportkompleks op Oudtshoorn; en
• Woensdag, 23 Desember – ATKV Straatmyl by die ATKV-vakansie-oord op Hartenbos. (Deur Stefan Skapie Goosen)