BUFFELSDRIFT, ’n wildreservaat buite Oudtshoorn, het 12 maande gelede met ’n opwindende projek begin wat behels dat hulle vir elke gas ’n gratis spekboompie gee.
Die projek is deur die Buffelsdrift Stigting begin as ’n manier om mense van dwarsoor die wêreld betrokke te maak by die bewaring van die omgewing.
“Ons glo dat elkeen ’n verskil kan maak,” sê Arrie Crafford, projekbestuurder van die Buffelsdrift Stig-ting.
Meer as 800 boompies is reeds aan gaste uitgedeel.
Gaste kan die boompies in die reservaat plant of dit saamneem en elders plant.
Die spekboompies word op Buffelsdrift self gekweek.
Steggies word gemaak van groot spekbome wat daar groei, en dan in die spekboom-kwekery versorg totdat dit wortel skiet.
Die boompies word in ekohouers wat uit olifantmis gemaak is, geplant. Die plant en houer kan net so in die grond geplaas word.
“By Buffelsdrift gaan dit oor die groter prentjie van bewaring,” sê Crafford. “As ons elke persoon kan kry om ’n bewaringsleefstyl te volg, kan elkeen bydra tot bewaring.”
Hierby sluit die reservaat se jagluiperdprojek aan, wat nie net die bewaring van die spesie insluit nie, maar ook die teel van die diere in ’n natuurlike omgewing waar hul steeds vry rondloop en vir hulself jag.
Op hul webblad (www.buffelsdriftfoundation. org) is 10 stappe oor hoe om ’n bewaringsleefstyl te volg.
Besoek gerus die webtuiste vir meer oor hul nuwe projek of wenke oor hoe om jou deel te doen om ons omgewing te bewaar. (Deur Angelique Erasmus)
1 Comment on "’n Spekboom om te plant vir elke gas van Buffelsdrift"
Comments are closed.
Ek Wil baie dringend met julle in kontak kom oor spekbome ,,, Ruby my Sel 0636131959