Dis amper tyd vir 2020 se Relay for Life!

“DIE sukses van vanjaar se Relay for Life is in die hande van die gemeenskap!

“Kansa daag Oudtshoorniete uit om hul steun aan kankerlyers te wys deur aan vanjaar se Relay for Life deel te neem en dit te ondersteun!”

Dit is die uitdaging wat Japie Coet­zee, oud-raadslid en tans die voorsitter van Oudtshoorn Relay for Life vandeesweek aan inwoners van die dorp gerig het.

Vanjaar se Oudtshoorn Relay for Life vind op Saterdag 1 Februarie om 18:00 op die tartanbaan by die De Jager Sportkompleks plaas.

Oudtshoorniete word aangemoedig om spanne van tussen 10 tot 15 lede in te skryf.

Inskrywingsgeld beloop R100 per lid.

Toegang vir mense wat dit wil bywoon, maar nie gaan deelneem nie, beloop ook R100 vir volwassenes en R50 per kind.

Volgens Coetzee is die reëlings­komitee slaggereed vir die geleent­heid.

“Ons nooi die gemeenskap, ge­sinne, kerke, besighede, fabrieke, banke, staatsdepartemente, skole en sportklubs om deel te neem en te help om dit ’n sukses te maak.”

Hy sê die komitee wat die geleent­heid reël, het die afgelope ses maande talle instansies besoek om hulle steun vir vanjaar se Relay for Life te vra.

“Kansa verwag dat R136 000 met Oudtshoorn se Relay ingesamel kan word.

“Dit is moontlik indien genoeg spanne inskryf en die luminaria­sakkies goed verkoop.

• Tydens die luminaria-geleentheid word kerse aangesteek vir kanker-oorwinnaars en diegene wat aan kanker gesterf het.

Luminaria-sakkies waarin die kerse geplaas word, is teen R10 elk beskikbaar by Kansa.

“Die sakkies kan versier word en ’n boodskap oor die geliefde wat daardeur vereer word, kan daarop geplaas word,” sê Coetzee .

Die sakkies word net na sononder met ’n kers in om die tartanbaan geplaas.

• Kanker-oorwinnaars is die aand van Relay for Life die spesiale gaste wat met ’n ete en ’n geskenk aan elk­een onthaal sal word.

• Behalwe dat stappers regdeur die nag stap, sal daar ook drie spesiale pret-rondtes wees waar deelnemers volgens die tema van die rondte aantrek.

Dié rondtes is Klaas Vakie, Funky Chicken en Outydse Ballroom!

Daar is ook ’n verhoog waar verskeie kunstenaars deur die nag sal optree.

Paul Amas is die seremo­nie­mees­ter van die aand.

• Die Hero of Hope vir 2020 is Albie Ellman, voormalige prinsipaal van Bridgton Senior Sekondêr en voormalige en skole-inspekteur.

Ellman sal by die geleentheid sy kankerverhaal met die teenwoordiges deel.

• Teen Sondagoggend om 04:45 sal predikante en geestelike leiers ’n spesiale rondte om die baan stap, waarna ’n gebed gedoen sal word, en wit duiwe vrygelaat sal word terwyl die lied How great Thou art deur alle teenwoordiges gesing sal word. (Deur Angelique Erasmus)