Reuse-rotse val in pad in Swartbergpas

DIE botanikus en natuurkundige van Renu-Karoo Veld Restoration en die Wolwekraal Bewarings-en-navorsingsorganisasie buite Prins Albert, prof Sue Dean, sê Prins Albert en omgewing het op 9, 19 en 20 Januarie ’n gemiddeld van 52 mm reën gekry, teenoor 2019 se totaal van sowat 50 mm.

In en om Prins Albert het dit die afgelope Saterdagnag en Sondag hard gereën, met wisselende hoe­veelhede wat op verskillende plekke aange­teken is: In die dorp self tussen 25 en 30 mm, in die Prins Albert-vallei (op die pad na Klaarstroom) sowat 36 mm, en op sommige plase in ’n noordelike rigting oor die 50 mm. Verlede week alleen is gemiddeld 24 mm gemeet.

In die Swartbergpas, by die piekniekplek Eer­stewater (sowat 5 km buite die dorp), het reuse-rotse Sondag uit die steil wande losgekom en tot in die pad geval.

Die munisipaliteit moes dit verwyder om die pad weer begaanbaar te maak.

Drie boorgat-pypnetwerke wat die dorp van drinkwater voorsien, is ook weens die groot hoe­veelhede water beskadig. Dit het veroorsaak dat daar nie genoeg water vir huisverbruik uitgepomp kon word nie en inwoners is gevra om, ongeag die oorvloedige reën, hul waterverbruik tot die minimum te beperk. Prins Alberters word reeds tot 90 liter per persoon per dag gerantsoeneer. ’n Vlak 4-waterbeperking geld steeds hier. Die munisipaliteit kon ook nie leiwater uit die berg na sy voorsie­ning­stelsels herlei nie omdat dit troebel is weens modder en ander vuiligheid wat daarin afgespoel het.

Verlede Woensdag en Donderdag (16 en 17 Januarie) het ’n hittegolf die dorp getref met tempe­rature van 45,5 en 47 grade Celcius wat gemeet is. Reën het egter Saterdagmiddag begin uitsak, deur Saterdagnag geduur saam met harde donderslae, en Sondag die hele dag voortgegaan. Inwoners met wie Die Hoorn gepraat het, sê hul tuine lyk stukke beter en almal voel verlig omdat selfs bome van ouer as 100 jaar begin doodgaan het.

Dean sê dis interessant dat klein diertjies weer in die veld opgemerk word en die droogte oorleef het, onder andere geitjies, kewers, akkedisse, bakoorjakkalse en klaasneusmuise.

“Swaar, maar onvoorspelbare reën kan in die somer verwag word, saam met donderstorms. Die herfsreënval is gewoonlik méér voorspelbaar en betroubaar.

“Ons kan nou net hoop vir opvolgreën om die droogte te breek,” sê sy.
Teen Dinsdagmiddag het dit belowend gelyk, met koel, bewolkte weer wat groot verligting van die versengende hitte van die vorige week gebring het.

 “Die 52 mm is genoeg vir ontkieming van warmseisoen-grasse en houtagtige plante soos soetdoring, Karoo Gold (geelberggranaat of ystervarkbos), koeniebos, ghwarrie en kruisbessie.

“Tensy ons meer reën gedurende die volgende maand kry, is dit onwaarskynlik dat kiemplantjies gaan oorleef. Die reën wat nou geval het, is ook nie genoeg om die Karoobossies wat die droogte oorleef het, te laat bot en blom nie.

“Ons het baie meer reën nodig om die vorige weidingskapasiteit van die veld te herstel, want baie van die bossies en grasse het doodgegaan. Die volledige herstel van die veld sal jare duur.”

Leeu-Gamka het baie minder reën as Prins Albert gekry – altesame 15 mm op 19 en 20 Januarie.

Wat damvlakke betref, bly die situasie in die Karoo ernstig, volgens James-Brent Styan, woordvoerder van die minister van plaaslike bestuur, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell.

Die Oukloofdam by die dorp was op 13 Januarie 1,7% vol, en het nou tot 10% gestyg. (Deur Marlene Malan)