DIE Suid-Kaap ken Derek Hendriks van Prins Albert as musikant, sanger en leier van die musiekgroep Slam Jam, maar dié talentvolle kunstenaar is stadig maar seker besig om ’n vir hom ook ’n loopbaan as skrywer uit te kerf!
Hendriks (42) werk tans aan sy debuutdigbundel nadat hy in 2018 en 2019 pryse by die plaaslike Leesfees vir sy poësie gewen het. Van sy skryfwerk is opgeneem in ’n bundel van die Montagu-Skrywersbond, onder leiding van Ernie Mellet, en sy rubrieke verskyn gereeld in die tydskrif Kuier. Een van sy gedigte is aanvaar vir die landswye Avbob-poësiekompetisie verlede jaar.
Derek is ook gekies om in 2018 die ATKV-Crescendo-liedjieslypskool in Melkbosstrand by te woon, waar onder andere die rapper Hemelbesem een van die leermeesters was.
“My skryfwerk is meestal bepeinsings oor die lewe en fases waardeur ek gaan. Dalk beteken dit ook iets vir ander mense wat deur die lewe gekwets is,” sê hy. “Maar ek erken my gedigte kort altyd skaafwerk. Die belangrikste is dat ek elke oomblik van gedigte, lirieke en musiek skryf geniet, en dat daar mense is wat dink my werk is aanvaarbaar vir ’n groter gehoor.”
Sy belangrikste twee werktuie, sê Derek, is sy musiektalent, want hy hoor die klank van woorde om gedigte te kan skryf, “en Afrikaans, my moe-dertaal.”
Sy pad om homself in die kunste te vestig, was nie altyd maklik nie. Hy het in 2015 die groot sprong gewaag om uit sy vaste werk as bewaarder by Korrektiewe Dienste te bedank en hom voltyds op musiek toe te lê.
“Ek was verveeld in my werk en geniet dit om te skryf.” Dit was ’n noodwendige stap, maar nie maklik nie, vertel hy.
“Ek beskou Oudtshoorn as my tweede huis, want dis waar ek skoolgegaan en gematrikuleer het. Ek het daar as bewaarder begin werk en was vyftien jaar in dié beroep voordat ek in 2015 bedank het. Dis in dié tyd dat ek Prins Albert toe getrek het. Ek is nou ’n gesoute musikant.”
Hendriks se musiekloopbaan het as stokperdjie in 1993 begin toe hy ’n disko-orkes gestig het. In 2009 het die groot deurbraak gekom toe die groep na die KKNK genooi is. Daarna het ander feeste gevolg, soos die Erfenisfees, die Snoek-en-patatfees en die Winterfees. Slam Jam het ook al saam met die bekende Tribal Echo opgetree. ’n Ruk gelede is Derek en sy mede-musikante aangewys as “die gehoor se keuse” by The Battle of the Jazz Bands in Mosselbaai.
“My ma, Annie, het vir my op vyf ’n kitaar in die hand gestop en het my eerste sessnaar gekoop. My eerste musieklesse was by die kitaarmeester Uncle Charlie Botes.”
Slam Jam oefen gereeld in Derek se huis, wat vol staan van instrumente: baskitaar, akoestiese kitaar, klawerbord, tromme, versterkers en reuse- luidsprekers.
Hy is buitengewoon lief vir die natuur, wat gereeld die tema in sy lirieke en gedigte is. “Die wêreld van kunstenaars is nie maklik nie. Musikante word nie altyd goed betaal nie, want die wêreld beskou nie musiek en skryf as ’n werk nie. As dit egter in jou bloed is, kan jy dit nie ignoreer nie.”
Sy groot droom is om ’n fliekdraaiboek te skryf. “Ek het reeds die idee, en ek het al daaraan begin werk. Wie weet, dalk word dit ’n werklikheid.”
• Vir meer inligting, skryf aan hendriks725 @gmail.com. (Deur Marlene Malan)