DIE goeie reën wat die afgelope naweek oor die Suid-Kaap uitgesak het, het die droogte in Kannaland ’n besliste knou gegee. Toe goeie reën oor die gebied na ’n biddag vir reën in Ladismith Vrydag begin uitsak het, was daar groot dankbaarheid onder inwoners.
Jakob Willemse, ’n inwoner van Calitzdorp, laat weet dat tussen 30 mm en 40 mm reën daar geval het.
Water het by die Nelsdam ingestroom en die hoogste vlak in die afgelope tyd bereik.
In Zoar het die Tierkloofdam sy walle oorstroom. Desmond Sauer by Waterval sê hy het meer as 20 mm gemeet.
• Ladismith, die setel van Kannaland, het self goeie reën ontvang. Met Die Hoorn se besoek Maandag aan die invloeigebied aan die voet van die Klein Swartberge, was amptenare van die Kannaland Munisipaliteit reeds vroeg op hul pos om die welkome gesig te aanskou. Water het sterk in die kanale gevloei wat water aan die omliggende plase en die JF le Grange-opgaardam voorsien.
Volgens Leon Blignault, hoof tegniese dienste by die Kannaland Munisipaliteit, het 23 mm se reën geval. Die invloei van boorgate was Maandagoggend 2,7 megaliter.
Boere in die omgewing ontvang leibeurte vir ’n sekere aantal ure volgens ’n ooreenkoms wat met die munisipaliteit aangegaan is. Blignault sê daar het genoeg water geval om ook water in Parkdam in die plaaslike karavaanpark te berg. Hy sê die reservoirs wat die dorp van drinkwater voorsien, is tans vol. (Deur Deon Meyer)